AfriForum lê strafregtelike klag teen Emfuleni-munisipale bestuurder oor voortdurende rioolstorting in Vanderbijlpark
AfriForum het gister ’n strafregtelike klag by die polisiekantoor in Vanderbijlpark teen April Ntuli, die munisipale bestuurder van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, ingedien oor die voortdurende en ernstige storting van rou riool in die CW5-woongebied in Vanderbijlpark.
AfriForum rig sedert 2024 verskeie briewe aan Ntuli en die Emfuleni-munisipaliteit waarin die organisasie versoek dat die probleem dringend opgelos word. Nieteenstaande talle klagtes en formele kennisgewings, het die munisipaliteit tot op hede geen blywende oplossing geïmplementeer nie.
Rou riool stoot gereeld op in inwoners se erwe en vloei deur strate, wat ’n ernstige gesondheidsrisiko vir die gemeenskap inhou. “Hierdie situasie is ’n blatante skending van inwoners se grondwetlike reg op ’n gesonde en veilige omgewing. Dit is onaanvaarbaar dat die munisipaliteit, ten spyte van herhaalde waarskuwings, nie die nodige stappe doen om die probleem op te los nie,” sê Stephanus Blignault, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Wes-Rand.
Volgens AfriForum kom die voortdurende versuim om die rioolstelsel te herstel en behoorlik te onderhou neer op nalatigheid en moontlik kriminele oortreding ingevolge die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur en ander toepaslike wetgewing.
Die organisasie beplan om druk op die owerhede te hou totdat verantwoordbaarheid verseker word en ’n permanente tegniese oplossing in werking gestel is. “Ons sal nie toelaat dat gemeenskappe aan die genade van ’n wanfunksionele munisipaliteit oorgelaat word nie,” sluit Blignault af.





