AfriForum herdenk Oom Paul se geboorte 200 jaar gelede met spesiale “verjaarsdaggeskenk”
AfriForum het vandag die 200ste herdenking van Paul Kruger se geboorte op 10 Oktober 1825 herdenk met ’n spesiale “verjaarsdaggeskenk” deur die beveiliging van die Kruger-monument op Kerkplein in die Pretoriase middestad te verbeter.


Links: Een van die Boerekrygerbeelde aan die voet van die Kruger-monument met werkers wat in die agtergrond herstelwerk aan die monument se heining doen. / Regs: Lede van die herstelspan aan die werk.
Hierdie inisiatief volg nadat vandale weer in September vanjaar van die standbeelde wat deel van die monument uitmaak, ernstig beskadig het. ’n Geweerloop en ’n skoen van twee van die Boerekrygerbeelde aan die voet van die Kruger-standbeeld is afgebreek. Omdat die veiligheidsheining rondom die monument ook beskadig is, was AfriForum bekommerd oor die onmiddellike veiligheid daarvan.
Na afloop van produktiewe gesprekke met verteenwoordigers van die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit is ooreengekom dat AfriForum die omheining kan herstel en versterk.

AfriForum beklemtoon dat dit noodsaaklik is dat gemeenskappe self verantwoordelikheid vir die beskerming van hul erfenisbakens moet aanvaar. “Kruger is ’n simbool van die stryd teen Britse imperialisme en ’n voorbeeld van samewerking tussen Afrikaners en ander gemeenskappe. Hy het ’n sleutelrol in die geskiedenis van die land gespeel wat mense steeds inspireer en besiel. Dit is gepas om op sy geboortedag ook hierdie aksie te onderneem om die monument te beveilig en terselfdertyd huidige geslagte hiervan bewus te maak,” meen Bailey.
Gesprekke tussen belanghebbendes oor die restourasie en toekomstige bewaring van die monument en beelde duur nog voort. “Ons besef hierdie aksie bied geen permanente oplossing nie, maar dit is noodsaaklik dat die monument so goed as moontlik beskerm word totdat meer volhoubare oplossings gevind word,” sluit Bailey af.
In aansluiting hierby is AfriForum ook vandag betrokke by ’n kranslegging by Paul Kruger se graf in die Heldeakker in Pretoria, die onthulling van die Kruger-standbeeld in Orania en aksies in Mpumalanga ter behoud van die Krugerwildtuin se naam.



