|

Munisipaliteit stuit AfriForum-herstelwerk aan paaie in Modelpark, eMalahleni, ná raadslid kla

Die AfriForum-MidWit-buurtspan se herstelwerk aan slaggate in Modelpark in eMalahleni (Witbank) is vandag in die wiele gery nadat ’n raadslid die span by die Emalahleni Plaaslike Munisipaliteit verkla het. Die span is versoek om die werk op te skort omdat AfriForum versuim het om die munisipaliteit daarvan in kennis te stel. AfriForum het egter die munisipaliteit vroeër vanjaar om samewerking genader maar geen reaksie hierop ontvang het nie.

“Wat ons stomslaan, is dat sommige raadslede alles in hulle vermoë sal doen om ons werk te stuit in plaas daarvan om met ons hande te vat,” sê Hennie Bekker, distrikskoördineerder vir AfriForum in die Hoëveld.

Die buurtspan, wat alreeds etlike maande in Middelburg en eMalahleni werksaam is en al verskeie slaggate hier herstel het, het vandag se werk op die munisipaliteit se aandrang gestaak omdat die munisipaliteit beweer dat AfriForum hom nie daarvan ingelig het nie en ook nie toestemming gevra het nie. AfriForum was toe al ’n paar uur hard aan die werk om slaggate in Gerdastraat reg te maak. Intussen het die span die afgelope twee maande al meer as 400 sakke teer gebruik om slaggate in eMalahleni te herstel, terwyl die munisipaliteit tot nou toe geen beswaar daaroor gemaak het nie.

Hierdie voorval volg nadat AfriForum al op 9 Mei in ’n skrywe aan die munisipale bestuurder ’n hand uitgereik en die munisipaliteit in kennis gestel het dat die organisasie ’n buurtspan gestig het, wat verskeie projekte – waaronder die herstel van slaggate – in die omgewing sal aanpak. Hoewel die munisipaliteit ontvangs van die brief erken het, is AfriForum terselfdertyd nie geweier om enige instandhouding in eMalahleni aan te pak nie. AfriForum poog om altyd eers samewerking met die betrokke munisipaliteit vir projekte soos dié te verkry. Die munisipale afdeling in beheer van paaie ontken egter ontvangs van die brief en voer aan dat niemand in die munisipaliteit dit vir hulle aangestuur het nie.

“Die munisipaliteit is só lamgelê dat hulle nie eers ’n e-pos kan beantwoord om ongemaklike situasies soos dié te vermy nie,” sê Bekker verder.

AfriForum is egter van voorneme om instandhouding in die betrokke dorpe voort te sit om die tekorte – waar raadslede en die munisipaliteit die gemeenskap in die steek laat – ongeag die munisipaliteit se houding daaroor, te takel.

“AfriForum verkies om inisiatiewe soos dié in samewerking met munisipaliteite te doen, maar sal nie toelaat dat die munisipaliteit ons verhoed om die gemeenskap se belange eerste te stel nie,” sluit Bekker af.

Teken die petisie om AfriForum se MidWit-buurtspan se werk te ondersteun.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf