|

AfriForum se Nelspruit-buurtspan maak só korte mette met vullis en verval

Binne slegs drie weke en sowat 60 sakke vullis en 24 vragte tuinvullis later het AfriForum se Nelspruit-buurtspan behoorlik korte mette gemaak met vullis wat dié Laeveldse stad ontsier. Dié opruimingsaksies wat die afgelope drie weke aangepak is in verskeie buurte in die stad, vorm deel van dié burgerregteorganisasie se voortgesette veldtog om – te midde van gebrekkige dienslewering in die Mbombela Plaaslike Munisipaliteit – opknapping, instandhouding en verbetering van openbare ruimtes hier te bewerkstellig.   

Dié opruimingsaksies was toegespits op die verwydering van tuinvullis in Steiltes en langs Enos Mabuza-rylaan waar 24 vragte opgeruim is. Daarbenewens is ’n grootskaalse vullisopruimingsaksie aangepak in Nelacrespark, Steiltes en Kaapschehoopweg waar ’n totaal van 57 sakke rommel verwyder is.

Benewens dié belangrike opruimingswerk, het die buurtspan ook ingespring en die grootte van nagenoeg een-en-’n-halwe rugbyvelde se gras in die Skylabsingelpark en Melkweg- en  Enterprisestraat gesny. Sowat 1,5 km se sypaadjies langs Enos Mabuza-rylaan is ook kafgedraf.

Die buurtspan het voorts, met die oorverf van klimrame in die  Enterprisesingelpark, toegesien dat opknappingswerk ook tot voordeel van die stad se kleinspan strek. Daarbenewens is Skylabsingelendie Enterprisesingel- en Melkwegstraatparke ook deeglik skoongemaak as deel van die Nelspruit-tak se groter strategie om parke, groenstroke en openbare ruimtes weer funksioneel en aantreklik te maak vir die gemeenskap.

“Hierdie werk is nie maklik nie – dit is fisieke arbeid wat ure se harde werk verg,” sê Hugo de Beer, voorsitter van AfriForum se Nelspruit-tak. “Ons span is egter trots daarop om die hande te wees wat werklik ’n verskil maak. Ons glo dat elke park wat skoongemaak word, elke sypaadjie wat netjies lyk, en elke meter wat gesny word, bydra tot ’n gemeenskap waar mense weer trots voel om te woon.”

De Beer benadruk wel dat dit kommerwekkend is dat gemeenskappe self moet instaan vir basiese instandhoudingstake waarvoor die munisipaliteit eintlik verantwoordelik is. Kwessies soos ’n tekort aan die politieke wil, begrotingstekorte en ’n tekort aan toerusting dra volgens De Beer by tot die munisipaliteit se traagheid om die stad netjies te hou.

“Ons wil ons opregte dank uitspreek aan elke lid wat bydra tot die tak se projekte. Sonder ons lede se bydraes sou hierdie tipe werk eenvoudig nie moontlik wees nie. Dit is omdat gewone inwoners besluit het om betrokke te raak, dat ons ’n tasbare verskil kan maak in ons stad.”

“Ons visie is eenvoudig – ons wil ’n stad bou waar inwoners kan trots wees op hul woonbuurte en waar mense vry, veilig en voorspoedig kan leef en werk,” sluit De Beer af.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf