AfriForum Pietersburg-Suid-plaaswag bemagtig vroue met noodhulpopleiding
Die AfriForum Pietersburg-Suid-plaaswag het die afgelope naweek ’n groep vroue geleer hoe om kalm en vaardig tydens noodgevalle op te tree. ’n Groep van agt vroue is onder leiding van Zoë Kern van Kern First Aid CC in noodhulp vlak 1 en 2 opgelei. Hierdie opleiding vorm deel van AfriForum se voortdurende pogings om selfstandigheid, veiligheid en die gemeenskap se weerbaarheid te versterk.
Die opleiding het praktiese tegnieke ingesluit om menselewens tydens noodgevalle te red, insluitend basiese wondversorging en gevorderde noodhulp intervensies. Deur hierdie kennis te bemeester, kan die dames nou vinnig en doeltreffend op noodgevalle in hul gemeenskap reageer – ’n onskatbare vaardigheid vir enige plaas- of landelike omgewing waar hulp dikwels minute te laat kan wees.
“In ons plaasgemeenskap leef daar ’n gees wat nie maklik gebreek kan word nie. Dit is ’n gees van samehorigheid, moed en omgee. Hier staan mans en dames skouer aan skouer, nie net om hul grond te beskerm nie, maar om ook mekaar te dra in tye van nood,” sê Liezel Beeslaar van AfriForum se Pietersburg-Suid-plaaswag. “Wanneer een swaar kry, kom almal nader; wanneer gevaar dreig, word hande gevat; wanneer daar vreugde is, word dit saam gevier.”
AfriForum se rampbestuurspan het ook ’n belangrike rol gespeel in die ondersteuning van hierdie inisiatief. Die burgerregteorganisasie se betrokkenheid, leiding en toerusting, insluitend brandsakkies wat aan die plaaswag oorhandig is, is van die maniere wat AfriForum help om die gemeenskap se gereedheid en selfstandigheid te versterk.
Die AfriForum Pietersburg-Suid-plaaswag benadruk dat hierdie projek nie net oor opleiding gaan nie, maar oor gemeenskapsbou. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.




