Pa se grudood ná gewelddadige plaasaanval knou boer steeds – 15 jaar later
“Dis nie gewone crime nie. Hulle kom om ons te moor. Hulle steel niks nie.” Só beskryf Leon Lotz, wie se ouers tussen Parys en Vanderbijlpark geboer het, die plaasaanval waarin sy pa in 2010 dood en sy vrou, Adele, verkrag is.
Dié aanval het reeds 15 jaar gelede plaasgevind, maar die rou oor daardie dag is nog duidelik sigbaar by Lotz. Hy vertel sy verhaal in die sewende episode van AfriForum se reeks Resilient voices – Farm attack survivors tell their stories wat vandag (14 Oktober) bekendgestel is. Die nuutste program sowel as die res van die reeks is beskikbaar op AfriForum se YouTube-kanaal.
Hy wou al van kindsbeen af boer, maar ná ’n reeks plaasaanvalle, is hy finansieel geknak en sy pa is dood.
“Daar was daardie dag agt aanvallers, maar net een is vasgetrek. Hierdie persoon was verdink van 23 moorde, insluitend die een op my pa. Ek was nie by die huis toe die aanval plaasgevind het nie, maar my vrou, kinders, pa en ma was wel daar. My vrou se klere is van haar lyf gestroop. Sy is verkrag en my pa is in die maag geskiet. Die aanvallers het gedreig om my dogter ook te skiet en my vrou het oor haar gaan lê om dit te verhoed,” sê Lotz.
Lotz vertel in die program van hoe min respek hy van die polisie en ander persone in die regstelsel gekry het toe hy en sy gesin op hul kwesbaarste was. Hy maak ook oop oor die letsels wat hy en sy gesin oorgehou het. Hy en sy vrou kon sewe jaar lank amper nie slaap nie omdat hulle bloot te bang was om dit te doen en sy kinders het jare ná die aanval nog angsaanvalle gekry.
“Die ergste van alles is dat die vermeende moordenaar my (telefoon-) nommer êrens in die hande gekry het en my voor die hofsaak gebel het om my te dreig. Hy is wel uiteindelik gevonnis, maar of hy nog in die tronk is, weet ek nie, want hy het voorheen al uit die tronk ontsnap. In die hof kon hy ook ewe skielik net Portugees praat alhoewel hulle die aand van die aanval die vieslikste goed in Afrikaans geskreeu het,” verduidelik Lotz.
“My vrou het ’n tydjie ná die aanval verskeie siektes opgedoen en ons moes ’n klomp keer Kaapstad toe ry vir behandeling. Sy het voor my oë agteruitgegaan. In haar laaste dae het sy in pyn geleef. Sy kon nie vir my sê sy is bang nie, maar ek kon dit in haar oë sien.”
Adele is op 1 Augustus vanjaar oorlede. Lotz boer nou naby Kimberley en het al sy pa se plaaswerkers weer in diens geneem. “Hulle wou nie daar bly nie en as boer moet jy na jou mense omsien, want die regering sal dit nie doen nie,” sê Lotz.
Lotz sê hy is kniediep in die skuld weens mediese onkostes waarvoor hy ná die aanval moes betaal, onkostes wat hy moes aangaan om by hofsake uit te kom en om skade op die plaas telkens te herstel.
“Ek wil ’n beroep op die mense van die land doen, staan op sodat ons by mekaar uitkom. Daar is verskeie organisasies waarvoor ons betaal, maar dit was net AfriForum wat na my geluister het en hulp aangebied het. My hart breek as ek sien waardeur my kinders steeds gaan,” sluit Lotz af.
Kyk die volledige episode hier.



