Upington beskadigde pad
|

AfriForum eis dringende herstelwerk aan gevaarlike Upington-kruising

AfriForum se Upington-tak het vandag ’n versoek aan die Dawid Kruiper Plaaslike Munisipaliteit gerig om die ernstig beskadigde pad by die kruising van dr Nelson Mandela-rylaan en Hillstraat by die Pick n Pay-sentrum in Upington dringend te herstel.

Swaar vragmotors, wat daagliks hierdie roete gebruik, het die padoppervlak só erg beskadig dat daar al ongelyke oppervlaktes en selfs natuurlike “spoedhobbels” gevorm het. Hierdie skade veroorsaak dat motoriste stadiger moet ry of selfs hul voertuie tot stilstand bring in die middel van die kruising, wat groot gevaar vir padgebruikers inhou.

In ’n brief wat vandag aan dr Elias Ntoba, die munisipale bestuurder, gestuur is, doen AfriForum ’n beroep op die munisipaliteit om ’n tydraamwerk vir herstelwerk te verskaf en om te verduidelik of daar enige padinspeksies of monitering aan die infrastruktuur in dié gebied gedoen is. Die munisipaliteit het sewe dae om op die brief te reageer.

“Hierdie is een van die besigste kruisings in Upington en die padoppervlak het nou só agteruitgegaan dat dit ’n gevaar vir motoriste, voetgangers en selfs noodvoertuie geword het. Ons vra dat die Dawid Kruiper-munisipaliteit onmiddellik ingryp om die teerpad te herstel en voorkomende maatreëls te tref om verdere skade deur swaar vragverkeer te voorkom,” sê Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Kalahari.

Intussen veroorsaak die beskadigde pad skade aan voertuie, terwyl  ekonomiese aktiwiteite in die sentrale sakekern negatief beïnvloed.

“Gemeenskappe betaal belasting en verdien veilige, bruikbare paaie,” sluit Strauss af.

AfriForum sal aanhou druk op die munisipaliteit uitoefen totdat die kruising weer veilig en ordentlik herstel is.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf