Tannie Barbara, wanneer kry ek my lisensie?
Deur Louis Boshoff, AfriForum-woordvoerder
Dit is algemeen bekend dat Suid-Afrika deur ’n bestuurderslisensiekrisis in die gesig gestaar word, maar wat presies is die omvang daarvan en wat is die waarskynlikheid dat dit opgelos sal word?
Die Departement van Vervoer besit slegs een lisensiekaartdrukker. Dié masjien is al 26 jaar oud, maar was veronderstel om ’n operasionele leeftyd van slegs 10 of 11 jaar te hê. Dus is dit nie verbasend dat die masjien al 160 keer onklaar geraak het en telkens na Duitsland verskeep moes word vir herstelwerk nie. Ná die vorige keer wat die drukker vroeër vanjaar buite werking was, het agterstand in die druk van lisensiekaarte op meer as 700 000 te staan gekom. Hierdie agterstand is steeds nie heeltemal ingehaal nie en intussen hou die hele land as’t ware duim vas dat die drukker nie wéér breek nie.
Bestuurderslisensiekaarte is sedert 2000 vir vyf jaar geldig, waarna dit hernu moet word. Ná verskeie oproepe het die departement navorsing laat doen om te bepaal of dié tydperk verleng moet word. Die navorsing het bevind dat die internasionale norm vir die geldigheid van bestuurderslisensies tussen 8 en 10 jaar is en het aanbeveel dat die geldigheidstydperk in Suid-Afrika verleng word. Sedertdien het drie opeenvolgende ministers van Vervoer al beloof om dit te doen, maar teen Oktober 2025 het daar nog dadels van gekom.
Intussen het die departement verlede jaar ’n proses van stapel gestuur om ’n nuwe verskaffer van lisensiekaartdrukkers aan te wys. Ná ’n uitgerekte – en agterdogtige – tenderproses, is ’n Franse maatskappy, Idemia, aangewys as voorkeurbieër teen ’n allemintige bedrag van R898 miljoen.
Voordat die kontrak egter onderteken is, het dit aan die lig gekom dat dié maatskappy reeds betrokke is by ander staatskontrakte waar korrupte transaksies bespeur is. Die toekenning van die bod is gevolglik op ys geplaas, ’n ondersoek is van stapel gestuur en die minister het die hof gevra vir ’n verklarende bevel. Sedertdien het 10 maande verloop waarin die departement geen nuwe poging aangewend het om die stokou drukker te vervang nie.
Tog is daar tekens dat die Departement van Vervoer die druk begin voel om daadwerklik op te tree. Sowel AfriForum as die Organisasie teen Belastingmisbruik (OUTA) het in die eerste helfte van die jaar ’n beroep gedoen op die gratis voorsiening van tydelike lisensies. Barbara Creecy, minister van Vervoer, het gevolglik op 27 Junie besluit dat dit wel gedoen sal word. Daar is verder beloof dat die Staatsdrukkery sal werk aan ’n rugsteunoplossing vir die druk van bestuurderslisensiekaarte. Daar is nog nie aan een van dié twee beloftes gestand gedoen nie, maar daar word wel grasie gegee aan motoriste wat reeds aansoek gedoen het vir ’n hernude lisensie om nie beboet te word terwyl hulle wag vir die nuwe lisensiekaart nie.
Dus is drie dinge tans duidelik:
- Die minister en die Departement van Vervoer skuil eerder agter burokratiese prosesse as om die nodige stappe te doen om die probleem volledig op te los.
- Suid-Afrikaanse motoriste sien dwarsdeur die minister se verskonings en die druk teen haar bou op.
- Terwyl die krisis voortduur, is daar ’n mate van toegeeflikheid teenoor motorbestuurders wat wag vir hernude lisensies, maar dit is nie ’n volhoubare oplossing nie.



