|

AfriForum veroordeel sny van subsidies aan Gauteng kwintiel 5-skole – eis groter outonomie

Alana Bailey (Afrikaans)

AfriForum veroordeel die drastiese vermindering van subsidies wat deur die Gautengse departement van Onderwys aan kwintiel 5-skole betaal word, asook die sny van departementele poste by dié skole. In ’n skrywe wat pas aan die LUR van Onderwys in Gauteng, Matome Chiloane, gestuur is, eis AfriForum dat ’n gesprek oor meer outonomie vir skole wat die grootste persentasie van hulle begroting self dra, nou in alle erns begin.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, sal die besparingsmaatreëls beslis ’n negatiewe impak op die gehalte onderrig van die betrokke skole hê. Voller klaskamers en minder individuele aandag aan leerders sal enkele van die gevolge van hierdie stap wees.

“Dat daar landswyd begrotingsuitdagings is, is geen geheim nie, maar dat van ouers verwag word om toenemend tot skole se uitgawes by te dra, terwyl hulle magte al meer afgeskaal word en in die provinsiale owerhede se hande geplaas word, is onaanvaarbaar. AfriForum stel ’n model voor waar skole wat finansieel selfstandig kan funksioneer, vryheid kry om self oor die etos, kurrikulum en bestuur van die skool te besluit, terwyl skole wat meer afhanklik van die owerhede is, gehelp word om tot onafhanklikheid te ontwikkel,” sê sy.

Bailey beklemtoon dat die voorstel vir hierdie nuwe model al jare lank aan die owerhede gemaak word – onder meer as deel van die kommentaar wat op die Bela-wetsontwerp ingedien is. “Die komende begrotingstekorte word al jare lank duidelik, so ook die toenemende magsug van die owerhede. Met die implementering van Bela word die finansiële eise net groter omdat daar nou vir Graad R as verpligte skooljaar ook voorsiening gemaak moet word. Dit alles getuig van swak beplanning en weer is dit die skoolgaande jeug en hul ouers wat die spit moet afbyt,” voeg sy by.

AfriForum se regspan ondersoek ook tans die besnoeiings om vas te stel of enige regsaksie moontlik is om besluite daaroor om te keer. 

Soortgelyke plasings

Ons is Afrikaners