AfriForum tree op om misleidende “Skukuza Nasionale Park”-inskrywing op Google Maps reg te stel
AfriForum doen tans stappe om misleidende inligting op Google Maps reg te stel wat na die Krugerwildtuin as “Skukuza National Park” verwys. Dié foutiewe inskrywing verskyn as een van die top-soekresultate vir “Skukuza” en is gekoppel aan die amptelike inligting van SANParke, die bestuursowerheid van die Krugerwildtuin. Dit skep die valse indruk dat die park se naam verander is.
Ingevolge Artikel 20 van die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Beskermde Gebiede 57 van 2003, het slegs die Minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing die wetlike gesag om die naam van ’n nasionale park toe te ken of te wysig. Bylaag 2 van die wet lys alle nasionale parke volgens hul amptelike name, insluitend “Kruger National Park”. Geen kennisgewing rakende die verandering van dié naam is in die Staatskoerant gepubliseer nie, wat beteken dat die Krugerwildtuin die park se enigste wettige en amptelike naam bly.
AfriForum sal hierdie fout by Google Maps aanmeld en versoek dat die foutiewe inskrywing wat verwys na “Skukuza Nasionale Park”, verwyder word. Die organisasie het ook ’n kort video vrygestel wat die publiek wys hoe om dié fout self aan te meld.
“Ons is sterk gekant teen die roekelose en polities gemotiveerde poging om die Krugerwildtuin se naam te verander,” sê Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir Omgewingsake. “Die verandering van die naam sal ’n deel van ons gedeelde geskiedenis uitwis, een van Suid-Afrika se waardevolste toerismehandelsmerke skaad en die oppergesag van die reg ondermyn. Die proses vir enige naamsverandering word duidelik in wetgewing uiteengesit, en geen sodanige proses is gevolg nie.”
AfriForum sal die Minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing versoek om ’n openbare verklaring uit te reik om te bevestig dat daar nie ’n nuwe naam vir die park goedgekeur is nie en dat alle dergelike voorstelle die behoorlike wetlike prosedure moet volg.
Lede van die publiek wat die veldtog wil ondersteun om die Krugerwildtuin se naam te behou, word uitgenooi om AfriForum se petisie by www.keepkruger.co.za te onderteken.



