|

Ramaphosa erken artikels 19(2), (3) en (4) van Onteieningswet is ongrondwetlik

Klankgreep: Kallie Kriel
Klankgreep: Kallie Kriel

President Cyril Ramaphosa het onder eed erken dat artikels 19(2), (3) en (4) van die nuwe Onteieningswet ongrondwetlik is omdat dit “foutiewelik” (“in error”) bepaal dat onteiening kan plaasvind voordat die grondeienaar die saak in die hof kan betwis. Ramaphosa erken ook dat dié artikels “nietig” kan wees omdat dit “vaag” (“may render the provisions void for vagueness”) is en dat dit ander artikels in die wet weerspreek.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum

Dié erkenning is vervat in Ramaphosa se beantwoordende verklarings in die hofsaak waardeur AfriForum en ander partye in die Hooggeregshof in Kaapstad poog om die Onteieningswet ongrondwetlik te laat verklaar. Ramaphosa vra die hof ook in sy verklaring om die “ongrondwetlikheid” van die artikel “reg te stel” (“remedy the unconstitutionality”) deur self wysigings aan die artikels “in te lees” (“reading in”).

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, verwelkom in sy verklaring – wat namens AfriForum in antwoord op Ramaphosa se verklaring by die hof ingedien is – Ramaphosa se erkenning dat die betrokke artikels van die Onteieningswet ongrondwetlik is. Hy voer egter aan dat die howe, weens die omvangrykheid van die wysigings wat Ramaphosa voorstel, nie in hierdie geval by magte is om self die wetgewing te wysig soos wat Ramaphosa versoek het nie. Dit is volgens Kriel die taak van die parlement en daarom moes Ramaphosa eerder die parlement gevra het om die ongrondwetlikhede reg te stel voordat hy die wet op 20 Desember 2024 in die geheim onderteken het.

AfriForum volstaan in Kriel se verklaring daarby dat die hof die Onteieningswet in sy geheel ongrondwetlik moet verklaar, of alternatiewelik dat die ongrondwetlike dele daarvan na die parlement terugverwys moet word om wysigings aan te bring.

“Ramaphosa se erkennings bevestig dat hy en die ANC blatante leuens verkondig het deur AfriForum se kommer oor die ongrondwetlikheid van die Onteieningswet af te maak as die ‘verspreiding van disinformasie’. Ramaphosa en almal wat AfriForum valslik beskuldig het, se leuens is nou inderwaarheid deur Ramaphosa self blootgelê,” verduidelik Kriel.

Volgens Kriel moet Ramaphosa persoonlik verantwoordelik gehou word vir die negatiewe gevolge wat sy ondertekening van die Onteieningswet vir die land en sy mense tot gevolg het, aangesien hy dié wet onderteken het, welwetend dat dit ongrondwetlik is. “President Donald Trump het binne 10 dae nadat Ramaphosa bekend gemaak het dat hy die Onteieningswet onderteken het, aangekondig dat hy strafmaatreëls teen Suid-Afrika gaan instel. Daar is dus ’n direkte verband tussen Ramaphosa se roekelose ondertekening van die Onteieningswet en die VSA se optrede teen Suid-Afrika. Enige werksverliese en groeiende armoede wat hieruit voortvloei, moet dus direk voor Ramaphosa en ander ANC-leiers se deur gelê word,” sê Kriel.

AfriForum het Ramaphosa reeds voor verlede jaar se verkiesing amptelik in ’n skrywe wat op 15 April 2024 gestuur is, versoek om die Onteieningswet terug te verwys na die parlement omdat die wet ongrondwetlik is. “Ten spyte daarvan dat die president geweet het dié wet is ongrondwetlik, het hy AfriForum en ander se versoeke geïgnoreer omdat hy verkeerdelik gedink het dat die wet die ANC sou help om verlore steun in die verkiesing terug te wen. Ramaphosa was dus bereid om die belange van die land en landsburgers op te offer ter wille van sy eie en die ANC se partypolitieke belange,” voer Kriel aan.

Kriel hou verder vol dat Ramaphosa in sy beëdigde verklaring die hof probeer mislei het deur aan te voer dat die Staatsdrukker oor die feesseisoen gesluit is, terwyl dit in werklikheid net op vakansiedae gesluit is. “Ramaphosa het hierdie wanvoorstelling gemaak om dit te probeer regverdig waarom hy ’n wet wat hy reeds op 20 Desember 2024 in die geheim onderteken het, eers op 35 dae later, op 24 Januarie 2025, in die Staatskoerant laat publiseer het. Die tydperk is van belang omdat ’n derde van parlementslede kragtens artikel 80 van die Grondwet ’n wet binne 30 dae ná ondertekening na die Konstitusionele Hof kan verwys vir hersiening. Ramaphosa se geheime ondertekening van die wet het dus parlementslede ontneem van hierdie grondwetlike reg,” voeg Kriel by.

Kriel spreek sy kommer daaroor uit dat Ramaphosa steeds in sy verklaring aan die hof aanvoer dat artikel 12(3) van die Onteieningswet, wat onteiening sonder vergoeding (oftewel nul-vergoeding) moontlik maak, nie ongrondwetlik is nie. “Met Zimbabwe as voorbeeld is Ramaphosa terdeë bewus daarvan dat enige sweempie van twyfel oor ’n land se verbintenis tot eiendomsreg, beleggers verjaag en groeiende armoede, werkloosheid en hiperinflasie tot gevolg het. Tog is hy bereid om die ANC se ondersteuners saam met die res van die bevolking te onderwerp aan die negatiewe gevolge van die ANC se ideologies gedrewe beleidsrigtings. Almal in die land het reeds die wrang vrugte begin pluk van die VSA se straftariewe wat direk op Ramaphosa se ondertekening van die Onteieningswet gevolg het,” volgens Kriel.

Kriel benadruk dat AfriForum in belang van die land enduit tot in die hoogste hof teen die Onteieningswet sal veg en ook verdere internasionale druk sal mobiliseer sou omstandighede dit vereis. “Lojaliteit aan die land se mense vereis dat ons alles moontlik moet doen om te verseker dat landsburgers nie aan dieselfde lot as Zimbabwiërs onderwerp word nie,” sluit Kriel af.

Nota aan redakteurs: Vind aangeheg president Cyril Ramaphosa se twee beantwoordende verklarings rakende AfriForum, die DA en Vaderlandstigting se hofaansoeke. Beide verklarings is volgens die president van toepassing op al die partye. AfriForum se repliserende verklaring is ook aangeheg. Die president se erkennings word onder meer vervat in paragrawe 8 tot 15 van die beantwoordende verklaring op die DA se aansoek wat ook van toepassing op AfriForum se aansoek gemaak word.  

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik