Alberton-buurtwag op hoë gereedheid wanneer elke sekonde tel
AfriForum se buurtwag in Alberton het die afgelope paar weke broodnodige bystand aan nooddienste gebied wat op verskeie ernstige motorongelukke in en om Alberton gereageer het. Die buurtwag het saam met nooddienste, die polisie en die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) gewerk om ondersteuning te bied, verkeer te beheer en die veiligheid van alle betrokke persone te verseker.
Lede van die AfriForum-buurtwag het op 12 Oktober op ’n botsing op Swartkoppiesweg gereageer en vinnig werk daarvan gemaak om die toneel en die insittendes van die motors te beveilig. Die bestuurder van ’n Chevrolet het beheer verloor oor die motor, oor die middelman gery en ’n BMW getref. Die bestuurder van die Chevrolet het die toneel verlaat, maar AfriForum-lede het Netcare911 en die GPF ontbied terwyl hulle die insittendes van die BMW ondersoek het. Geen ernstige beserings was aangemeld nie.
’n AfriForum-buurtwaglid het op 6 Oktober aan die hoek van Lincolnlaan en Swartkoppiesweg gery toe ’n Honda met ’n BMW gebots het. Die BWM het omgeslaan en terwyl nooddienste die pasiënte in beide motors behandel het, het die Alberton-buurtwag die toneel help beveilig deur verkeer te reguleer. Die BMW se passasier is na die hospitaal geneem vir verdere behandeling.
Op 26 September het die Alberton-buurtwag op ’n ernstige ongeluk op die R59 suid voor die Swartkoppies-afrit gereageer, waar ’n Toyota en ’n Kia by ’n botsing betrokke was. Vier van die insittendes het uit die Toyota geval en is op die toneel behandel voordat AfriForum-lede gehelp het om hulle in ambulanse te laai. AfriForum het saam met die Gautengse verkeerspolisie gewerk om die R59 suid tydelik te sluit terwyl nooddienste op die toneel was.
Buurtwaglede het ook op 24 September met verkeerbeheer gehelp tydens ’n noodlottige motorongeluk op Kliprivierrylaan en Swartkoppiesweg. Twee insittendes van ’n motors was in hul voertuie vasgekeer, maar ten spyte van swaar reën is al die insittendes vrygelaat en na verskeie hospitale geneem. Een van die insittendes van ’n Nissan het egter aan haar beserings beswyk. AfriForum het gehelp om die toneel te beveilig totdat die betrokke owerhede oorgeneem het.
“AfriForum se Alberton-buurtwag se betrokkenheid by die voorvalle wys dat gemeenskapsveiligheid nie net oor die patrollies gaan nie, maar om broodnodige bystand aan nooddienste te bied om ook die breër gemeenskap te beveilig,” sê Nadia Olckers, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand.
“AfriForum bedank elke buurtwaglid wat die afgelope paar weke tyd afgestaan het om die gemeenskap van Alberton so goed te beveilig. Dit is duidelik dat dié buurtwag ’n passie vir gemeenskapsveiligheid het.”
Raak betrokke en hou jou omgewing veilig deur by AfriForum se Alberton-buurtwag aan te sluit. Besoek www.wordlid.co.za of kontak die tak direk by 076 329 8697 vir meer inligting.



