|

Nuwe straatligte sorg vir ’n veiliger Chrissiesmeer, danksy AfriForum

AfriForum se Chrissiesmeer-tak het gedurende September daarop gefokus om ligte op strategiese punte aan te bring om belangrike infrastruktuur en gebiede te belig vir ’n veiliger dorp. Dié projek het alreeds groot verskille gemaak met ondernemings wat baie positiewe terugvoer aan die takbestuur gegee het.

Altesaam ses ligte is aangebring waarvan twee in Bothwellstraat, twee in King Edward-straat en twee in Simmerstraat. “Hierdie projek is noodsaaklik vir ons dorp se veiligheid en die beskerming van noodsaaklike infrastruktuur,” sê Millicent van den Heever, leier van die AfriForum-buurtwag op Chrissiesmeer.

Verder het die tak ook al die dorp se sypaadjies begin skoonsny en ongeveer 85 000 vierkante meter se gras gesny. Die hele begraafplaas, wat amper 15 000 vierkante meter beslaan, is ook hierby ingesluit en al die gras is kort gesny. Hierdie projek dra by tot die algehele netheid in die dorp. Die hele dorp se strate is omtrent skoongesny en slegs gebiede wat te nat was as gevolg van die reën, is oorgelaat vir ’n latere datum.

“Ons fokus hard daarop om te verseker dat die dorp netjies en skoon is. Dit is ’n uiters belangrike saak omdat ons dorp so afhanklik is van toerisme. Mense hou daarvan om op skoon en veilige plekke stil te hou,” sê Van den Heever verder.

Danksy die AfriForum-tak se asdrom-projek is 79 sakke rommel gedurende September verwyder, wat die totaal vir 2025 tot dusver op 389 sakke bring. Die dromme word weekliks skoongemaak.

“Klein dorpies is nie onredbaar nie, hierdie dorp bewys dat ’n paar vrywilligers met goeie ondersteuning daadwerklik hul omgewing kan beveilig, skoonmaak en onderhou,” sê Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld.

Steun die AfriForum-tak in Chrissiesmeer deur aan te sluit by www.wordlid.co.za.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf