|

AfriForum verwelkom herstel van rioollekkasie in Eco Park ná maande se gesloer

AfriForum se Sasolburg-tak verwelkom die herstel van die ernstige rioollekkasie wat die Bongani Mabaso Eco Park-natuurreservaat in Sasolburg tot onlangs nog geteister het en ernstige waterbesoedeling tot gevolg gehad het. Ná AfriForum se dringende skrywe aan die Metsimaholo Plaaslike Munisipaliteit op 20 Mei 2025, is die lekkasie uiteindelik vandeesmaand herstel en die oorvloei van rou riool na damme in die reservaat en omliggende gebiede gestaak.

Die vloei van rioolwater uit ’n mangat in die reservaat het sedert etlike maande gelede waterbronne wat as drinkplek vir die reservaat se wild dien, besoedel. Hierdie besoedeling het ook ’n risiko vir die breër ekosisteem en gemeenskap ingehou, aangesien die besoedelde water gevloei het na The View on Vaal Resort (vroeër bekend as Abrahamsrust) en uiteindelik die Vaalrivier, ’n kritieke waterbron vir die streek.

Volgens Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier, is die organisasie bly dat die owerheid uiteindelik opgetree het, maar meen daar is steeds rede om waaksaam te bly. “Ons waardeer dat die munisipaliteit die nodige herstelwerk gedoen het, maar hierdie probleem het vir te lank gesloer en die omgewing ernstige skade berokken. Ons hoop dat die herstelwerk wat gedoen is, nie net volhoubaar sal wees nie, maar dat die munisipaliteit ook voorkomende instandhouding nou sal prioritiseer om soortgelyke rampe te verhoed.”

AfriForum monitor tans die situasie om te verseker dat die rioolstelsel in Eco Park nie weer onklaar raak nie. Die organisasie beklemtoon dat die beskerming van waterbronne en die omgewing ’n wetlike en morele verantwoordelikheid van die munisipaliteit is, soos bepaal deur artikel 24 van die Grondwet, die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur en die Nasionale Waterwet.

“Gemeenskappe behoort nie die gevolge van swak munisipale bestuur te dra nie. Ons sal aanhou om druk toe te pas waar nodig om te verseker dat soortgelyke voorvalle nie weer voorkom nie,” sluit Pretorius af.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf, Magsmisbruik