Die wolf, ’n prins en sy skoonma – AfriForum Teater bied nuwe pantomime
Vanaf 20 tot 23 November bring AfriForum Teater vir gehore die splinternuwe pantomime Die wolf, ’n prins en sy skoonma – ’n skreeusnaakse produksie deur die akteur Neels Clasen, wat onlangs in die rolprent My F*k, Marelize! te sien was. Met ’n sterbelaaide rolverdeling bestaande uit Marlee van der Merwe, Eloise Clasen en Pierre Breytenbach, beloof hierdie sing-dans-lag-pantomime om vermaak vir oud en jonk te verskaf.
Wolfgang Wolfaard (Neels Clasen) was eens ’n beroemde akteur – bekend vir sy rolle in Dances with Woves en White Fang. Ná ’n rowwe egskeiding en ’n nuwe liefde vir soetgoed, het hy in die Bosveld gaan skuil waar niemand van hom weet nie. Daar probeer hy in vrede as ’n veganis-wolf met ’n groentetuin leef, maar drie vlakvarkies het ander planne.
Bacon (Marlee van der Merwe), Salami (Eloise Clasen) en Worsie (Pierre Breytenbach) maak sy droomlewe onmoontlik en voor hy weet, is hy in ’n nuwe avontuur vol misverstande, magie en moerbeibome vasgevang. Intussen is daar ook Jan Prins (Pierre) – die Boelie van die Bosveld – sy vrou Aspoester (Eloise) en haar stiefma Daisy De Melkkan (Marlee), wat almal in ’n dol draaitoneel van intrige en wraak vasgevang raak. Voeg daarby ’n Rooikêppie met ’n pap selfoon, ’n ouma met ’n soettand en ’n wolf met ’n suikerprobleem – en jy het ’n pantomime soos min!
Verwag lag, sang en dans vir die hele gesin.
Vier van Suid-Afrika se gewilde teatersterre gee lewe aan ’n ryke verskeidenheid karakters in hierdie speel, sing en dans vertoning. Dis pure vermaak vir die hele familie – van ouma tot kleinsus, van pa tot tannie (want sy ís met jou oom getroud!) – en niemand sal kan keer om saam te lag en te skree: “Hy’s agter jou!”
Die besonderhede oor die pantomime is as volg:
Datum en Tyd: 20 en 21 November om 19:30; asook 22 en 23 November om 12:00
Plek: AfriForum Teater
Bespreek: by www.afriforumteater.co.za





