|

AfriForum se Mooirivier-buurtwagte lê bykans 3 000 km af tydens massapatrollie

Die AfriForum-buurtwagte in Mooirivier het in samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), gemeenskapslede, verskeie sekuriteitsmaatskappye en veiligheidsinstansies ’n massapatrollie op 17 en 18 Oktober in hul onderskeie gebiede uitgevoer om polisiëringsigbaarheid te skep. Die aksie het omstreeks 18:00 begin en tot 03:00 die volgende oggend voortgeduur.

Altesaam 190 patrolleerders het aan die patrollie deelgeneem en ’n totaal van 2 981 km in 138 voertuie afgelê. Daar het ook 24 persone van ander instansies, soos die SAPD, GPF en sekuriteitsmaatskappye, deelgeneem. Die buurtwagte wat deelgeneem het was Bothaville, Sasolburg, Viljoenskroon, Songloed, Potchefstroom en Stilfontein.

Daar was min ernstige insidente in die streek; dit is waarskynlik oor die groot sigbaarheid van die buurtwagte. In Songloed, Klerksdorp, het die buurtwag gehelp om iemand in besit van dwelms te arresteer. In Bothaville het die buurtwag ’n gebeurlikheidsplan ingeoefen en in Potchefstroom het die buurtwag ’n motorongeluk gesimuleer en die gebeurlikheidsplan ingeoefen sodat die patrollielede kan oefen om sulke situasies te hanteer.

“Ek is baie trots op hierdie Mooirivier-buurtwagte wat altyd bereid is om aan die landwye massapatrollie deel te neem, al is dit al laat in die jaar en almal is reeds moeg. Ek bedank ook elke patrolleerder, wat elke nag bereid is om hulle tyd op te offer om na die veiligheid van hul onderskeie gemeenskappe om te sien,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier.

Raak vandag nog by AfriForum se buurtwagte betrokke: Besoek www.afriforum.co.za/veiligheid/buurtwagte/buurtwagte/.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf, Veiligheid