|

AfriForum tree op teen onwettige Klerksdorp-ontwikkeling, wat vleilande benadeel

AfriForum het gister ’n formele brief aan die Matlosana Plaaslike Munisipaliteit beteken waarin die organisasie die onmiddellike staking van ’n onwettige ontwikkeling in Klerksdorp eis. Die brief, wat die prokureursfirma Hurter Spies namens AfriForum opgestel het, waarsku dat voortgesette grondwerke en konstruksie sonder die nodige goedkeurings ’n ernstige oortreding van verskeie wette uitmaak.

Volgens AfriForum het die ontwikkelaar Bageso Development Consultants (Pty) Ltd, reeds begin met grondwerke en die installering van infrastruktuur op die terrein bekend as die Hillview-ontwikkeling, sonder dat die projek deur die munisipaliteit of enige bevoegde owerheid goedgekeur is. Die ontwikkeling beoog om sowat 4 700 wooneenhede op te rig – sonder om eers die vereiste omgewingsmagtiging of watergebruiklisensie te bekom.

“Ons het bewyse dat daar reeds met groot grondverskuiwing en infrastruktuurinstallasie begin is, ondanks die feit dat die munisipaliteit geen formele goedkeuring gegee het nie,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.  “Die wet is duidelik – geen ontwikkelaar mag aan ’n projek van hierdie omvang begin werk sonder behoorlike omgewings- en boumagtigings nie. Hierdie tipe arrogante optrede is ’n direkte minagting van wetlike prosesse en gemeenskapsbelange.”

Die brief aan die munisipaliteit verwys na oortredings van verskeie wetgewing, onder meer die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur, Wet 107 van 1998 (NEMA); die Wet op Nasionale Bouregulasies en Boustandaarde, Wet 103 van 1977; en die Matlosana Grondgebruikbestuursverordening, wat die goedkeuring van dorpsbeplanning en grondontwikkelings streng reguleer.

AfriForum wys daarop dat die Munisipale Beplanningstribunaal (MPT) die oorspronklike aansoek in Oktober 2024 van die hand gewys het weens ’n gebrek aan regsbevoegdheid by die aansoeker. Tog het die ontwikkelaar daarna begin met aktiwiteite wat vleilande versteur en waterbronne beskadig – sonder enige omgewings- of boumagtiging.

Vleilande is baie sensitiewe areas wat verseker dat waterbronne skoon bly, want dit filtreer water wat na die riviere toe gaan en as ’n vleiland eers verniel word, neem dit baie jare voordat dit weer heeltemal herstel. Daar kom ook baie spesifieke natuurlewe voor soos voëls, paddas en insekte. Vleilande dien verder as sponse vir die reënwater-afvloei van omliggende gebiede: as dit weg is, oorstroom alles. Verder dien vleilande ook as koolstof-vangers wat die lug suiwer.

“Ons verwag van die Matlosana-munisipaliteit en die Noordwes-regering om onmiddellik wetstoepassing te doen,” voeg Pretorius by. “As daar nie binne sewe dae opgetree word nie, kan AfriForum regsaksie instel om die ontwikkeling te stop en diegene verantwoordelik aanspreeklik te hou.”

AfriForum sê die saak gaan nie net oor een ontwikkeling nie, maar oor die beginsel van regverdigheid en wettigheid. “Gemeenskappe het die reg om te weet dat ontwikkeling op ’n verantwoordelike en deursigtige manier plaasvind. Ons sal toesien dat die wet gevolg word en dat die omgewing beskerm word. Ons doen ook ’n beroep op inwoners om sulke skendings van omgewingsregte onverwyld by ons aan te meld,” sê Pretorius.

Om aan te sluit by AfriForum se Klerksdorp-tak, kontak Pretorius by 081 392 2071.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf