AfriForum: Militêre basisse word eenstopwinkels vir misdadigers
AfriForum doen ’n beroep op die minister van Verdediging en die hoof van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag om volle deursigtigheid te verskaf oor die omvang van die diefstalle by De Brug en ander militêre basisse, asook die maatreëls wat getref word om verdere voorvalle te voorkom. Dit volg ná twee inbrake by die De Brug-weermagbasis buite Bloemfontein in die Vrystaat die afgelope twee weke. In minstens een van dié gevalle is ploftoestelle, onderdele vir mortiere en ammunisie gesteel.
AfriForum beskou hierdie voorvalle as verdere bewys van ’n langdurige patroon van swak sekuriteit en ’n gebrek aan verantwoordbaarheid binne die weermag.
Die organisasie voer verder aan dat hierdie diefstal weereens beklemtoon hoe kwesbaar Suid-Afrika se militêre installasies geword het en hoe hierdie swakhede ernstige gevolge vir openbare veiligheid kan hê.
“Dit is kommerwekkend dat burgerlikes en ’n private sekuriteitsmaatskappy – en nie militêre personeel nie – die verdagtes onderskep het en hierdie gevaarlike items teruggevind het. Dit versterk waaroor AfriForum al jare waarsku – ons militêre infrastruktuur is nie voldoende beveilig nie en dat die nodige beheermaatreëls en toesig eenvoudig nie daar is nie,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid.
AfriForum het al herhaaldelik gewaarsku oor diefstal en korrupsie by weermagbasisse oor die land heen, waar vuurwapens, ammunisie en militêre toerusting sonder behoorlike ondersoek of verantwoording verdwyn het. In 2023 is ’n weermaglid ook in Bloemfontein in hegtenis geneem vir die diefstal en herverkoop van wapens, ammunisie en selfs ’n handgranaat.
“Die staat se onvermoë om sy eie wapenvoorraad en ammunisie te beskerm, plaas gewone Suid-Afrikaners in gevaar Ons sien nou die direkte gevolge van ’n stelsel wat toegelaat is om mettertyd te versleg, ten spyte van herhaalde waarskuwings van die burgerlike samelewing,” voeg Broodryk by.
Broodryk sluit af: “Die tyd het aangebreek vir ernstige introspeksie binne die weermag. Ons benodig beslissende optrede om dissipline te herstel, sekuriteit te versterk en te verseker dat ons nasionale verdedigingsbates nie in die hande van misdadigers beland nie.”



