Eskom verslap sonpaneel-registrasievereistes, danksy AfriForum
Ná volgehoue druk van AfriForum het Eskom uiteindelik toegegee en ’n gedeeltelike verslapping van die registrasie- en sertifiseringsvereistes vir kleinskaalse ingeboude kragopwekking (SSEG/Small-Scale Embedded Generation) aangekondig. Hierdie wysiging geld vir huishoudelike verbruikers wat krag direk van Eskom ontvang en beteken dat dit nie meer nodig is dat ’n professionele ingenieur hierdie installasies moet afteken nie.
AfriForum het vroeër vanjaar ’n formele brief aan Eskom gestuur om duidelikheid te kry oor die wetlike en regulatoriese raamwerk waarop die kragvoorsiener steun om die verpligte registrasie van SSEG-stelsels, wat minder as 100 kW opwek, af te dwing. Nadat geen reaksie ontvang is nie, het AfriForum ’n tweede brief en uiteindelik ’n prokureursbrief aan Eskom gerig, wat hom tot antwoord gedwing het.
“AfriForum het van die begin af beklemtoon dat Eskom nie oor ’n duidelike regsgrondslag beskik om streng en duur aftekenings van ingenieurs te vereis nie,” sê Deidré Steffens, AfriForum se raadgewer vir Plaaslikeregeringsake. “Die feit dat Eskom nou self erken dat elektrisiëns die werk kan doen, bevestig ons standpunt dat hierdie vereistes onrealisties en onwettig was,” voeg Steffens by.
Volgens die nuwe Eskom-maatreëls kan huishoudelike sonkrag-installasies nou deur ’n geregistreerde elektrisiën van die departement van Arbeid (enkel-fase toetspersone uitgesluit) gesertifiseer word. AfriForum beskou hierdie stap as ’n belangrike oorwinning vir gewone verbruikers en ’n duidelike bewys dat gemeenskapsdruk werk.
Hoewel AfriForum die stap verwelkom, bly die organisasie bekommerd oor Eskom se voortgesette verwysing na sogenaamde “verpligte registrasie” en moontlike boetes wat ná Maart 2026 opgelê kan word. Eskom het steeds nie ’n enkele regulasie of wetlike bepaling uitgewys wat hom magtig om boetes op te lê aan verbruikers wat nie registreer nie.
“Ons sal aanhou om hierdie proses fyn dop te hou,” waarsku AfriForum. “Ons ondersteun veiligheid en die nakoming van geldige standaarde, maar sal nie toelaat dat verbruikers gedwing word om aan onseker of onwettige vereistes te voldoen nie,” sluit Steffens af.
AfriForum beskou Eskom se stap as ’n wen vir die gemeenskap en ’n bevestiging dat geregverdigde burgerlike druk tot werklike verandering kan lei. Die organisasie sal voortgaan om Eskom en die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (NERSA) se beleide noukeurig te moniteer om te verseker dat enige toekomstige vereistes regverdig, deursigtig en wetlik gegrond is.



