|

Só takel AfriForum se Oos-Rand-takke veiligheid (Deel II)

Suid-Afrikaners kan lankal nie meer net op die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) staatmaak om hulle veilig te hou nie. Gemeenskappe is al hoe meer op hulself aangewese hiervoor. Juis daarom prioritiseer verskeie AfriForum-takke aan die Oos-Rand gemeenskapsveiligheid in samewerking met ander rolspelers. Hierdie takke is ook gereeld besig met ander aksies wat help om hul woonbuurte op te hef.

Forum Nuus het reeds in ’n vorige artikel aangeklop by AfriForum se takke in Edenvale, Kempton Park, Boksburg, Brakpan en Springs. Hierdie keer vind ons uit watter projekte deur takke in Alberton, Benoni en Germiston aangepak word.

Alberton

’n Geharde misdadiger is vroeër vanjaar gevonnis vir gewapende roof en die besit van ’n onwettige vuurwapen en ammunisie. Dié sukses volg ná lede van AfriForum se Alberton-tak reeds in 2023 tydens ’n padblokkade, waar hulle die SAPD bygestaan het, gehelp het om dié misdadiger en sy makkers aan te keer toe hulle in ’n oor-en-weer-skietery met die SAPD betrokke geraak het.

Tydens die padblokkade is ’n motoris vir sy lisensie gevra. Die bestuurder van die voertuig het egter teëgesit en die polisielid probeer omkoop. Toe dit nie werk nie, het een van die voertuig se insittendes ’n vuurwapen op die SAPD-lid gerig. Die vinnige reaksie van ’n AfriForum-buurtwaglid het egter toegesien dat die polisielid betyds gewaarsku is voor die eerste skote kon klap. ’n Skietgeveg het uitgebreek en een van die insittendes is noodlottig gewond.

’n Tweede insittende het sonder sy vuurwapen die hasepad gekies, maar ’n AfriForum-buurtwaglid het hom agterna gesit, ingehaal en in hegtenis geneem. Hierdie misdadiger, wat intussen ook geïdentifiseer is as ’n verdagte in verskeie moordsake, is uiteindelik vanjaar gevonnis. Die derde verdagte het van die toneel af ontsnap, maar iemand wat sy beskrywing pas is omtrent ’n week later by ’n ander skietvoorval vasgetrek.

Benoni

Een van die groot fokusareas van hierdie tak is veiligheid. In November 2023 het die tak slegs een kamera gehad op die Loomix- gesamentlike inligtingstelsel, ’n sentrale beheersentrum waardeur nasporing gedoen en waarskuwings uitgereik word oor verdagte voertuie. Intussen het AfriForum met die hulp van die gemeenskap en plaaslike sekuriteitsmaatskappye dié kamerastelsel tot meer as 140 kameras – 70 statiese en 70 mobiele kameras – uitgebrei. AfriForum se beheerkamer lys gemiddeld tussen 20 en 30 verdagte voertuie per maand op die Loomix-databasis. Die organisasie bied ook opleiding aan personeel van ander beheerkamers en sekuriteitsmaatskappye om die meeste uit die Loomix-stelsel te kry.

AfriForum se Benoni-tak het ook vanjaar ’n moniteringsgroep op die been gebring. Hierdie groep het reeds baie sukses behaal en help met die inwin van inligting wat aan die SAPD gegee kan word om hul taak makliker te maak.

Volgens Nadia Olckers, AfriForum se koördineerder vir die Oos-Rand, is die Benoni-tak se veiligheidsuksesse grootliks te danke aan goeie samewerking met ander plaaslike rolspelers, insluitend sekuriteitsmaatskappye soos BadBoyz, BlackHawk Tactical, Legendary Guardians Elite Protection, Wolf Security, PHP Security, PRS Security, die teenkapingsmaatskappy NoJack, die insleepdiens DOT Towing en Trio Risk Management.

Germiston

AfriForum se Germiston-tak se samewerking met die Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit het die afgelope paar maande merkbare resultate opgelewer. Vanaf Junie tot Augustus 2025 het die gemeenskap 238 klagtes oor kragonderbrekings, waterlekkasies, onwettige elektrisiteitsverbindings, foutiewe verkeers- en straatligte en slaggate aangemeld. Die Germiston-tak het deur middel van hul aktiewe opvolgbenadering help toesien dat 192 – oftewel meer as 80% – van hierdie probleme suksesvol opgelos kon word.

Dié tak het ook saam met die gemeenskap ’n wye verskeidenheid ander aksies aangepak. In een van dié aksies het die tak bykans 2 ton teer ingespan om slaggate in dié dorp mee op te vul.

AfriForum se Germiston-tak het in een aksie bykans 2 ton teer ingespan om slaggate te herstel.

Is jy ’n inwoner van die Oos-Rand? Raak dan vandag nog betrokke by jou naaste AfriForum-tak en maak sodoende ’n verskil in die welstand en veiligheid van jou buurt. Kontak Nadia Olckers (081 217 8579 of nadia.olckers@afriforum.co.za) vir meer inligting.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf, Veiligheid