|

Meer as 500 patrolleerders neem deel aan AfriForum-patrollie in Boland

AfriForum se Boland-buurtwagte in die Overstrand, Helderbergkom, Strand, Paarl, Worcester en De Doorns het op 17 en 18 Oktober aan die organisasie se landwye massapatrollie deelgeneem. Die doel van hierdie patrollie is om misdaad te bekamp, gemeenskapsveiligheid te versterk en samewerking tussen AfriForum-strukture, wetstoepassers en nooddienste te bevorder.

’n Totaal van 286 AfriForum-buurtwagpatrolleerders van die Boland het aan die patrollie deelgeneem, terwyl altesaam 224 derdeparty rolspelers die organisasie ondersteun het. Met 282 voertuie is 4 137 km gesamentlik afgelê.

Slegs vyf voorvalle, waaronder diefstal, openbare dronkenskap en brandstigting, is gedurende die patrollie aangemeld, wat suksesvol deur die AfriForum-buurtwag en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) hanteer is. ’n Groot aantal boetes is ook opgelê aan padgebruikers, wat sonder geldige bestuurslisensies gery het.

Met behulp van AfriForum se gesertifiseerde opgeleide hommeltuig-vlieëniers in De Doorns, Paarl en Overstrand, kon groter gebiede deur hoë sigbaarheid gedek word. AfriForum se Groot Drakenstein-buurtwag in die Paarl het talle plase beveilig deur hoë sigbaarheid ná ’n toename in plaasaanvalle in die streek.

“AfriForum se landwye massapatrollie wys wat moontlik is wanneer gemeenskappe saam staan vir veiligheid. In die Boland het ons gesien hoe gewone burgers buitengewone dinge doen om hul gemeenskappe te beskerm en beveilig. Gemeenskapsveiligheid is nie noodwendig afhanklik van groot strukture nie, maar elke individu wat bereid is om betrokke te raak. Saam maak ons ’n tasbare verskil,” sê Marique van Dalen, AfriForum se  distrikskoördineerder vir die Boland.

Soortgelyke plasings

Veiligheid