|

AfriForum lei vrywillige brandbestryders in Pretoria op

AfriForum het die afgelope naweek veldbrandbestrydingsopleiding in die Wes-Moot in Pretoria aangebied waartydens byna 50 vrywilligers die nodige kennis en vaardighede opgedoen het om hul gemeenskappe in tye van nood te ondersteun, veral nou met die brandseisoen.

Hierdie opleiding is deel van AfriForum se breër strategie om gemeenskappe meer weerbaar te maak teen krisisse soos veldbrande. Waar plaaslike owerhede traag of afwesig is, staan gewone mense op om buitengewone werk te doen.

Die opleiding het uit teorie en prakties bestaan waartydens vrywilligers hul nuwe vaardighede op meer as vyf hektaar se doelbewuste beheerde brande getoets het. Vrywilligers is opgelei om verskillende tipes veldbrande met verskeie toerusting, waaronder rugsakke, brandhake, pompe, balsers en sogenaamde “bakkiesakkies” – oftewel mobiele brandblussingseenhede, wat op bakkies gemonteer word – te hanteer.

Die opleiding het ook gefokus op die voorbereiding en beplanning vir opkomende brandseisoene, soos hoe om brandpaaie doeltreffend te beplan en in stand te hou; hoe om reaksieplanne te hê wanneer brande uitbreek; en hoe om samewerking tussen gemeenskappe, boere en AfriForum-strukture te versterk om vinniger en veiliger op te tree.

“Hierdie opleiding wys weereens dat gemeenskappe nie langer kan wag vir die staat om hulle te red nie. Ons mense is bereid om self op te staan, hul tyd op te offer en die nodige kennis te bekom om mekaar te beskerm,” sê Llewellynn Hemmens, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Noord.

AfriForum beklemtoon dat hierdie tipe opleiding lewens red en gemeenskappe versterk, veral in landelike gebiede waar noodreaksie dikwels stadig of ondoeltreffend is.

“Ons bou nie net brandbestrydingspanne nie – ons bou weerbare gemeenskappe. Elke vrywilliger wat opgelei word, is ’n bate vir die veiligheid van sy buurt,” sluit Hemmens af.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf, Veiligheid