Hof stuit Ngwathe-appèlproses: Provinsiale ingryping móét nou volg, eis AfriForum
Provinsiale ingryping moet volgens AfriForum nou dringend in die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit geïmplementeer word. Dié beroep volg ná gister se uitspraak in die Hoogste Hof van Appèl wat hierdie munisipaliteit se appèlaansoek in AfriForum se diensleweringshofsaak met koste van die hand gewys het. Die jongste beslissing beaam AfriForum se standpunt dat die munisipaliteit geen regsgronde het om die Bloemfonteinse Hooggeregshof se oorspronklike uitspraak op 20 Junie te verontagsaam nie. Die Vrystaatse provinsiale regering móét daarom onmiddellik ingryp, ’n administrateur aanstel, die munisipale raad ontbind én binne 90 dae ’n tussenverkiesing hou om nuwe raadslede te verkies.
Luidens die Hoogste Hof van Appèl is daar “geen redelike vooruitsig op sukses in ’n appèl nie en geen ander oortuigende rede waarom ’n appèl aangehoor behoort te word nie”. AfriForum doen daarom ’n beroep op die Vrystaatse provinsiale regering om sonder uitstel die raad te ontbind en ’n administrateur aan te stel om die munisipaliteit te bestuur.
“AfriForum sal die nodige druk uitoefen sodat die provinsiale regering stiptelik optree. Die inwoners onder die Ngwathe-munisipaliteit se bestuur kan eenvoudig nie verdere uitstel bekostig nie. Elke dag sonder behoorlike bestuur beteken dat nog inwoners sonder krag, water en hoop bly,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.
Die ontploffing van ’n mini-substasie in Parys bevestig hoe dringend hierdie ingryping geword het. Die mini-substasie aan die hoek van Derdelaan en Uniestraat, wat in die vroeë oggendure aan die brand geraak het, het nou groot dele van die dorp sonder krag gelaat. Volgens AfriForum se plaaslike strukture is daar min hoop dat kragtoevoer vinnig herstel gaan word. Inwoners is reeds deur die drukgroep Save Ngwathe gewaarsku om hulself voor te berei om vir dae lank sonder krag te sit.
“Hierdie voorval is nie ’n uitsondering nie, maar ’n simptoom van jarelange wanbestuur, korrupsie en totale verval. Baie inwoners het steeds geen water nie en waar daar wel water beskikbaar is, is dit besoedel en ondrinkbaar. Die gemeenskap leef daagliks met die gevolge van ’n munisipaliteit wat in werklikheid nie meer funksioneer nie,” sê Pretorius.
Corné Cronjé, AfriForum se hoof van Gemeenskapsbou, sê hoewel die jongste hofuitspraak bevestig dat die gemeenskap se belange bo politieke verskonings gestel is, moet die pad vorentoe verantwoordelik bestuur word.
“Dit is noodsaaklik dat die Vrystaatse provinsiale regering die regte stappe doen om korrupsie te beperk en dienslewering te verseker. Die aangestelde administrateur moet die herstelplan in samewerking met die gemeenskap en organisasies soos AfriForum aanpak om werklik volhoubare dienslewering te verseker.”
Hy voeg by dat die mense van Parys toenemend bereid is om self eienaarskap te neem van hul dorp en nie langer bereid is om hul toekoms in die hande van korrupte of onbevoegde politieke strukture te laat nie. “Ons gemeenskap is trots, betrokke en vasbeslote om ’n verskil te maak – nie net vir Parys nie, maar vir die hele Ngwathe,” sê Cronjé.
Schalk Burger, voorsitter van AfriForum se Parys-tak, het ook die Parys-gemeenskap bedank vir hul bereidwilligheid en betrokkenheid by die saak. “Dit is duidelik dat volhoubare druk tot sukses lei. AfriForum sal daarom voortgaan om die inwoners van Ngwathe by te staan, praktiese oplossings te soek en druk uit te oefen vir volhoubare dienslewering – want geen gemeenskap behoort só te leef nie.”
AfriForum doen ’n beroep op die gemeenskap om betrokke te bly, onreg te rapporteer en saam te werk om die plaaslike regering verantwoordbaar te hou. Kontak Burger by 082 653 4281 om by AfriForum se Parys-tak betrokke te raak.



