Nuuskommentaar: Polisiekorrupsie en politieke inmenging – is ons demokrasie in gevaar?
Deur Zel-Mari Gelderblom
Die jongste onthullings van politieke inmenging en korrupsie binne die polisie skets ’n onrusbarende prentjie van ’n land waar misdaad, politiek en magsmisbruik al hoe meer vervleg raak. Firoz Cachalia, waarnemende minister van Polisie, het onlangs gewaarsku dat Suid-Afrika op pad is om die volgende Colombia of Ecuador te word – lande waar georganiseerde misdaad staatsinstellings van binne uitgekalwe het. Sy woorde is nie blote oordrywing nie, maar ’n waarskuwing oor hoe diep die krake in die staatsbestel reeds loop.

Cachalia se bekommernis oor misdaadnetwerke wat staatsaankope infiltreer, dui daarop dat korrupsie nie meer bloot ’n bestuursprobleem is nie, maar ’n direkte bedreiging vir demokrasie self. Wanneer openbare fondse vir persoonlike of politieke gewin geplunder word, word die morele grondslag van die staat ondermyn. Sy oproep om die hervorming van teenkorrupsie-instellings is dus nie net ’n beleidskwessie nie – dit is ’n noodroep aan ’n land op die rand van ’n institusionele afgrond.
Die parlementêre ad hoc-komitee se ondersoek na korrupsie binne die polisie het nuwe momentum gekry. Die komitee is saamgestel na aanleiding van bewerings wat luitenant-generaal Nhlanhla Mkwanazi, polisiekommissaris van KwaZulu-Natal, vroeër vanjaar gemaak het rakende ’n misdaadsindikaat se infiltrasie in die land se wetstoepassingsagentskappe en die Polisieminister se ontbinding van ’n polisietaakspan.
Senzo Mchunu, minister van Polisie wat op spesiale verlof geplaas is, het onlangs in sy getuienis voor die kommissie verduidelik dat sy opdrag om die polisietaakspan wat politieke moorde in KwaZulu-Natal ondersoek “onmiddellik” te ontbind, verkeerd geïnterpreteer is. Hy hou vol dat hy bloot bedoel het dat die span se funksies herevalueer moes word.
Wat die situasie verder laat vlamvat, is Bheki Cele, voormalige minister van Polisie, se bewerings dat Mchunu glo probeer het om die omstrede tenderpreneur Vusimuzi (Cat) Matlala te oorreed om sy politieke ambisies – spesifiek vir ’n pos in die ANC se provinsiale leierskap – te finansier. Intussen word teenstrydige aantygings heen en weer tussen die onderskeie getuies, elkeen met sy eie agenda en soms twyfelagtige verlede, rondgegooi.
Die parlement se ad hoc-komitee sit steeds sy ondersoek voort na bewerings van kriminele infiltrasie, korrupsie en politieke inmenging in die regstelsel. Die vraag bly egter: kan ’n stelsel wat reeds deur jare se wantroue geteister word, homself geloofwaardig ondersoek?
Die gesprek oor geregtigheid het ook onlangs verder verdiep. Die Khampepe-kommissie van ondersoek wat bewerings van politieke inmenging in ondersoeke of vervolgings van die Waarheid-en-versoeningskommissie (WVK) se sake ondersoek, het in Augustus vanjaar begin en moet werksaamhede binne ses maande afhandel. AfriForum dring in ’n voorlegging aan die kommissie nou daarop aan daar ondersoek ingestel moet word na die vervolging van ANC-leiers wat betrokke was by terreurdade. Kallie Kriel, die organisasie se uitvoerende hoof, beklemtoon dat ware geregtigheid nie partydig mag wees nie en dat elke slagoffer erkenning verdien. Kriel wys in sy voorlegging spesifiek op die ANC se landmyn- en bomaanvalle op burgerlikes soos dié waarin Kobie van Eck en twee van haar kinders, Nasie (2) en Nelmarie (8) in 1985 gesterf het.

Suid-Afrika staan dus by ’n morele kruispad; aan die een kant hang die skadu van georganiseerde misdaad wat die staat van binne uithol, en aan die ander kant is die dringende behoefte aan ’n regstelsel wat sonder vrees of guns kan optree. As die land nie nou daadwerklik optree nie, kan Cachalia se waarskuwing oor Suid-Afrika se oorgang na ’n land soortgelyk aan Colombia of Ecuador binnekort ’n werklikheid word.



