Nóg ’n Ngwathe-appèl ten koste van dienslewering – AfriForum sit hofstryd voort
AfriForum se hofstryd teen die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit in sy diensleweringshofsaak word voortgesit ondanks die munisipaliteit se voorneme om nóg ’n appèlaansoek, dié keer by die Konstitusionele Hof, in te dien. Die burgerregteorganisasie se aansoek in terme van artikel 18(3) van die Wet op Hoër Howe 10 van 2013 is reeds vroeër vandeesmaand gebring om te vra dat regter J.P. Daffue se oorspronklike uitspraak teen die munisipaliteit geïmplementeer word hangende die munisipaliteit se appèl daarteen. Dié saak word op 4 Desember aangehoor.
Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier, sê dis onrusbarend dat die munisipaliteit nou van voorneme is om hom tot die Konstitusionele Hof te wend om ’n gebalanseerde hofuitspraak deur die Bloemfonteinse Hooggeregshof te probeer appelleer. Dit ten spyte daarvan dat die Hoogste Hof van Appèl vandeesweek die munisipaliteit se tweede appèlaansoek met koste van die hand gewys het. Dié hof het beslis dat daar “geen redelike vooruitsig van sukses in ’n appèl [is] nie en [dat daar] geen ander oortuigende rede [is] waarom ’n appèl aangehoor behoort te word nie”.
“Hierdie stap is vir AfriForum ’n klinkklare bewys dat die munisipaliteit geen gevoel het vir die gemeenskappe wat hy veronderstel is om te dien nie. In plaas daarvan om tyd, geld en energie aan water- en riooldienste te bestee én infrastruktuur in stand te hou en op te gradeer, verkies Ngwathe om belastingbetalers se geld te verkwis aan hofprosesse wat uitsluitlik daarop gemik is om tyd te wen,” sê Pretorius.
AfriForum se artikel 18(3)-aansoek vra dat die bestaande hofbevel, wat as deel van ’n gestruktureerde interdik beveel dat die munisipale raad ontbind word en die Vrystaatse provinsiale regering onmiddellik by die munisipaliteit moet ingryp, afgedwing word hangende die voorgenome appèl. Die munisipaliteit se eerste aansoek om verlof tot appèl is op 19 Augustus van die hand gewys en die jongste poging om appèl aan te teken kan etlike jare neem om afgehandel te word.
“AfriForum kan nie toelaat dat korrupte en onbevoegde munisipaliteite die regsproses as skild gebruik om hul mislukkings te verskans nie. Elke sent wat aan hierdie appèlprosesse bestee word, is ’n sent wat nie aan dienslewering bestee word nie,” sê Pretorius.
AfriForum sal voortgaan om die inwoners van onder meer Parys, Heilbron, Koppies en Vredefort by te staan in hul stryd vir volhoubare dienslewering en verantwoordbaarheid.
AfriForum doen ’n beroep op die gemeenskap om betrokke te bly, onreg te rapporteer en saam te werk om plaaslike regering verantwoordbaar te hou. Kontak Schalk Burger by 082 653 4281 om by AfriForum se Parys-tak betrokke te raak.



