|

Paarl-tak speel gasheer vir vuurwapenkenners om jóú te beskerm

AfriForum se Paarl-tak het onlangs ’n inligtingsaand aangebied waartydens Firearms Guardian, die versekeringsfonds vir gelisensieerde vuurwapeneienaars, broodnodige inligting oor die wettige hantering van vuurwapens met AfriForum se lede en die breër publiek gedeel het.

Onder leiding van Ian Cameron, DA-LP en voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor Polisie, het drie leidende stemme uit die vuurwapengemeenskap, naamlik Gideon Joubert (Firearms Guardian), Henk Nolte (Firearms Guardian) en Damian Enslin (South African Gunowner’s Association), bestaande en toekomstige vuurwapeneienaars ingelig oor wanneer ’n vuurwapen gebruik mag word, hoe om op te tree indien jy ’n persoon uit nood geskiet het en die regsaspekte en kultuur van verantwoordelike vuurwapenhantering.

“AfriForum het hierdie aand gereël om ons lede en gemeenskap toe te rus met die regte kennis oor vuurwapenbesit en verdediging. ’n Gereguleerde en verantwoordelike benadering tot vuurwapens red lewens. Dit gaan nie net oor selfverdediging nie, maar oor dissipline, voorbereiding en veiligheid. Firearms Guardian se insette het AfriForum se Paarl-buurtwag beslis versterk en ek glo dit sal ’n blywende impak hê op hoe ons as gemeenskap veiligheid benader,” sê Rudi Spamers, operasieleier vir AfriForum se Paarl-buurtwag.

Hierdie geleentheid het die fondasie geskep vir ’n kultuur van verantwoordelike vuurwapenhantering én die gedeelde doelwit vir ’n veiliger en meer ingeligte vuurwapengemeenskap beaam.

Die insiggewende geleentheid is in samewerking met Grey Man Operations, NARFO, Natshoot, CANiK Africa, Kaapjag, Burre Burger, Saai, Fidelity ADT en CHS Gun & Ammunition aangebied.

Raak vandag by jou naaste AfriForum-tak betrokke. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings

Veiligheid