|

AfriForum-buurtwagte in Oos-Kaap werk saam tydens landwye patrollie

AfriForum se buurtwagte in die Nelson Mandelabaai het op 17 en 18 Oktober aan die organisasie se landwye massapatrollie deelgeneem. Die doel van hierdie patrollie is om misdaad te bekamp, gemeenskapsveiligheid te versterk en samewerking tussen AfriForum-strukture, wetstoepassers en nooddienste te bevorder.

Deelnemende AfriForum-buurtwagte het Walker Drive, Springfield Tudor/Springfield, Broadwood en Colchester van Gqeberha ingesluit, en dan ook AfriForum se Mosel–buurtwag en Winterberg-plaaswag van Uitenhage. ’n Totaal van 200 AfriForum-buurtwagpatrolleerders het aan die patrollie deelgeneem, terwyl altesaam 120 derdeparty rolspelers die organisasie ondersteun het. Met 184 voertuie is 4 799 km gesamentlik afgelê.

Ander instansies wat aan dié AfriForum-patrollie deelgeneem het, was die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), Citywide-sekuriteit, Atlas-sekuriteit en Relay-nooddienste. Tydens die magsvertoon het gesertifiseerde opgeleide hommeltuig-vlieëniers van AfriForum en Citywide-sekuriteit ook hul moderne hommeltuie bekendgestel en aan die publiek gedemonstreer.

Slegs 11 voorvalle, waaronder diefstal, openbare dronkenskap en brandstigting is gedurende die patrollie aangemeld, wat suksesvol deur die AfriForum-buurtwagte en die SAPD hanteer is.

Volgens Louis van der Vyver, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Kaap, is die doel van die massapatrollie om die sigbaarheid van veiligheidsinstansies te verhoog en om samewerking tussen verskillende deelnemers in hierdie gebied te bevorder. Van der Vyver sê verder dat die regering sy burgers se veiligheid in die steek laat. Veiligheid het dus ’n aangeleentheid geword waar almal eienaarskap vir hul eie veiligheid moet neem.

“AfriForum se landwye massapatrollie wys wat moontlik is wanneer gemeenskappe saam staan teen veiligheid. In die Oos-Kaap het ons gesien hoe gewone burgers buitengewone dinge doen om hul gemeenskappe te beskerm en beveilig. Gemeenskapsveiligheid is nie noodwendig afhanklik van groot strukture nie, maar elke individu wat bereid is om betrokke te raak. Saam maak ons ’n tasbare verskil,” sluit Van der Vyver af.

AfriForum moedig die publiek aan om by hul naaste AfriForum-buurtwag aan te sluit. Besoek www.afriforumbuurtwag.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf