|

Geskiedkundige vennootskap sorg vir betroubare watervoorsiening aan groentetuin, kantore van Tradisionele Raad en gemeenskapslede

Barend Uys (Afrikaans)

AfriForum, die uitvoerende komitee van die Nasionale Huis van Tradisionele en Khoi-San Leiers (NHTKL), Saai en die kantoor van Morena e Moholo (hoof tradisionele leier) Montoeli Mota van die Batlokoa Ba Mota het vandag aankondig dat ’n sonaangedrewe waterstelsel, wat betroubare watervoorsiening aan die kantore van die Batlokoa Ba Mota Tradisionele Raad en die plaaslike groentetuin verseker, suksesvol geïnstalleer en in werking gestel is. Die groentetuin sal nie net groente aan die plaaslike voedingskema voorsien nie, wat tans ’n tekort aan groente in die gesig staar, maar ook lede van die gemeenskap die geleentheid bied vir opleiding, oordrag van vaardighede en om ’n inkomste te verdien. ’n Watertenk wat vir gemeenskapslede toegang tot water gee, is ook inwerking gestel. Dit volg nadat die NHTKL leiding geneem het in die smee van die geskiedkundige vennootskap as deel van die eerste jaarlikse Lenaka-gedenklesing, wat teen die einde van 2024 by Manthatisi Hoërskool in Sedibeng, Phuthaditjhaba, Vrystaat gehou is.

“Betroubare watervoorsiening aan die kantore van ons Tradisionele Raad, wat so ’n sentrale rol in die lewe van ons gemeenskap speel, sal ver gaan om ons waardigheid as ’n landelike gemeenskap te herstel. Ek is opgewonde oor die geleentheid om ’n positiewe impak met die groentetuin te maak. My mense en ek is dankbaar teenoor die vennote dat hulle hoop bring en blywende waarde tot ons koninkryk toevoeg,” sê Morena e Moholo Montoeli Mota, Morena e Moholo van die Batlokoa Ba Mota-kultuurgemeenskap.

“Die jaarlikse Lenaka-lesing dien as ’n platform om ons ryke erfenis te vier terwyl dit inklusiewe sosio-ekonomiese ontwikkeling binne tradisionele gemeenskappe bevorder. Ons volg ’n benadering om vennootskappe te versterk, institusionele kapasiteit te verbeter en geleenthede vir volhoubare groei te ontsluit. Dit is bemoedigend dat hierdie inisiatief tot die vestiging van infrastruktuur gelei het en ’n projek van stapel gestuur het wat die potensiaal het om ’n blywende en positiewe nalatenskap te laat,” sê Kgosi Thabo Seatlholo, voorsitter van die NHTKL.

“Dit is ’n groot voorreg vir AfriForum om ’n vennoot van die NHTKL in hierdie inisiatief te wees, wat nie net bydra tot sosio-ekonomiese ontwikkeling nie, maar ook die versterking van kulturele identiteit en die herstel van ’n gesonde kulturele selfbeeld, aangesien beide hierdie aspekte van kritieke belang is vir kultuurgemeenskappe om hul volle potensiaal te verwesenlik. Ons is dankbaar vir ons lede en die borge van die projek wat ons in die posisie plaas om by te dra om hierdie kultuurgemeenskap, met wie ons die voorreg het om ’n wedersydse erkennings- en samewerkingsooreenkoms te hê, meer selfonderhoudend en selfstandig te maak. ’n Netwerk van kultuurgemeenskappe, gevestig tussen grondvlak-kultuurgemeenskappe gebaseer op wedersydse erkenning en respek, word sterker en berei die weg voor vir ’n voorspoedige toekoms vir die kinders van alle gemeenskappe in die land,” sê Barend Uys, hoof van Interkulturele Verhoudings en Samewerking by AfriForum.

“Daar is geen sektor van die ekonomie wat soveel geleenthede kan skep om welvaart in so ’n kort tyd te genereer soos landbou nie. Ons het dringend meer voedselproduksie in ons land nodig en daarvoor het ons meer boere nodig. Ons is dankbaar vir die geleentheid om die inwoners van ’n diep landelike, kommunale gebied te bemagtig om wanvoeding te bekamp en ’n lewensbestaan deur landbou te maak,” sê dr. Theo de Jager, direksievoorsitter vir die landboubelangenetwerk Saai.

Theo de Jager (Afrikaans)

Soortgelyke plasings

Ons is Afrikaners