|

AfriForum en Witrivier-rugbyklub span saam om noodwaterpunt op te rig

AfriForum se Witrivier-tak het in samewerking met die Witrivier-rugbyklub ’n noodwaterpunt op die klub se terrein opgerig om die gemeenskap met water te voorsien wanneer die nood druk. Hierdie noodwaterpunt kom te midde van voortslepende diensleweringsprobleme wat die inwoners van Witrivier soms vir dae lank sonder water laat.

Die AfriForum-tak ontvang toenemend klagtes oor wateronderbrekings, swak watertoevoer en besmette drinkwater in Witrivier en die omliggende gebiede. In die afgelope jaar het die watertoevoer na inwoners beduidend verswak, met inwoners wat gereeld bruin en modderige water uit hul krane kry. Groot dele van die dorp, veral die hoogliggende woongebiede, word boonop ook vir dae op ’n slag heeltemal sonder water gelaat.

“Die burgerregteorganisasie kon eenvoudig nie verder toekyk hoe gesinne, skole en ondernemings sonder water sit terwyl die munisipaliteit versuim om tydig op te tree nie. Hierdie noodwaterpunt is ’n gemeenskapsinisiatief wat daarop gemik is om praktiese hulp te bied vir die hele gemeenskap,” sê Theo Bezuidenhout, voorsitter van AfriForum se Witrivier-tak.

Die noodwaterpunt bestaan uit ’n watertenkstelsel wat deur ’n boorgat gevoed word. Die watertenks verskaf water aan inwoners tydens onderbrekings in die munisipale toevoer.

Die oprigting van hierdie noodwaterpunt vorm deel van AfriForum se pogings om gemeenskappe selfstandig te maak. Soortgelyke projekte word landwyd deur AfriForum-takke aangepak waar munisipale waterinfrastruktuur agteruitgaan en inwoners gereeld sonder skoon water sit.

“AfriForum se benadering is nie om te wag vir die munisipaliteit om iets te doen nie, maar om eerder self iets daaraan te doen. Deur saam te werk met instellings soos die Witrivier-rugbyklub wys ons wat moontlik is wanneer gemeenskappe verantwoordelikheid neem vir hul dorp,” sê Bezuidenhout.

AfriForum doen ’n beroep op inwoners om die noodwaterpunt verantwoordelik te gebruik en om aan te sluit by die Witrivier-tak sodat soortgelyke projekte in ander dele van die dorp aangepak kan word. Besoek www.wordlid.co.za om vandag betrokke te raak.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf