|

Onthullings by Madlanga-kommissie bewys noodsaaklikheid om polisiemagte te desentraliseer, sê AfriForum

Klankgreep: Jacques Broodryk (Afrikaans)
Klankgreep: Jacques Broodryk (Engels)

AfriForum het sy langdurige beroep vir die devolusie van polisiemagte herhaal ná skokkende onthullings by die Madlanga-kommissie van ondersoek, wat diepgewortelde korrupsie, politieke inmenging en kriminele infiltrasie binne Suid-Afrika se polisiëringstrukture blootgelê het.

Volgens AfriForum bevestig hierdie bevindinge waaroor die organisasie al jare lank waarsku – dat die gesentraliseerde polisiëringsmodel Suid-Afrikaners in die steek laat en dat wetstoepassing nader aan die gemeenskappe wat dit bedien, gebring moet word.

“Die bewyse wat uit die Madlanga-kommissie na vore kom, skets ’n ontstellende prentjie van ’n polisiediens wat deur interne politiek en korrupsie verlam word,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir gemeenskapsveiligheid. “Dit is presies hoekom AfriForum lank reeds aanvoer dat polisiemagte gedesentraliseer moet word na provinsiale of streeksvlak, waar aanspreeklikheid en responsiwiteit werklik kan funksioneer.”

Getuienis voor die Kommissie het aan die lig gebring hoe senior polisiebeamptes en beamptes in misdaadintelligensie na bewering deur georganiseerde misdaadnetwerke gekompromitteer is en hoe wettige ondersoeke deur politieke inmenging ontspoor is.

“Dit toon dat die huidige stelsel – waar alle polisiemagte vanuit Pretoria beheer word – ’’n enkele mislukkingspunt geword het,” gaan Broodryk voort. “Gemeenskappe kan nie staatmaak op ’n nasionale struktuur wat so maklik beïnvloed word en so ver verwyderd is van die realiteite op voetsoolvlak nie.”

AfriForum voer verder aan dat die devolusie van polisiemagte na provinsiale of streekregerings wetstoepassing meer deursigtig, plaaslik verantwoordbaar en operasioneel rats sal maak. Die organisasie glo dat provinsiale regerings en munisipaliteite die beste geplaas is om hul eie veiligheidsprioriteite te identifiseer, hulpbronne meer doeltreffend te ontplooi en saam met plaaslike gemeenskapsveiligheidstrukture te werk.

“Die ineenstorting van vertroue tussen gemeenskappe en die nasionale polisie is een van die grootste bedreigings vir stabiliteit in Suid-Afrika,” voeg Broodryk by. “Desentralisasie sal burgers toelaat om weer eienaarskap van hul eie veiligheid te neem – iets wat onmoontlik is onder die huidige, gesentraliseerde model.”

AfriForum doen ’n beroep op die parlement en die departement van Polisie om die nodige wetgewende hervormings te begin om provinsiale polisiëringstrukture met behoorlike oorsigmeganismes in werking te stel.

“Die onthullings by die Madlanga-kommissie is nie net nog ’n skandaal nie. Dit is ’n bewys dat die stelsel self gebroke is. As ons vertroue in polisiëring wil herstel en ons gemeenskappe wil beskerm, moet ons begin deur mag aan die mense terug te gee,” sluit Broodryk af.

Soortgelyke plasings

Veiligheid