Cogta-verslag wys omvang van mislukkings in munisipale bestuur – AfriForum
AfriForum het die bevindings in die departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (Cogta) se jaarlikse verslag op plaaslike regering vir die 2023/2024-boekjaar – wat op 29 Oktober 2025 in die Staatskoerant gepubliseer is – oorweeg en die skrif is aan die muur. Hierdie verslag bevestig wat gemeenskappe al jare lank ervaar – dat munisipaliteite bankrot is en nie in staat is om selfs basiese water- en sanitasiedienste te handhaaf nie.
Luidens die verslag het die meeste munisipaliteite die 2024/2025-boekjaar met onbefondsde begrotings en voortdurende tekorte begin, terwyl hul skuld aan Eskom en waterrade soos Rand Water steeds styg. Die aankoopkoste van elektrisiteit en water oorskry die uitgawes wat aangegaan word om munisipale werknemers in verskeie metropolitaanse gebiede in diens te neem. Dit terwyl die bedrag wat aan munisipaliteite verskuldig is in ’n enkele jaar van R117 miljard tot R127 miljard gestyg het. Die meerderheid munisipaliteite gaan gebuk onder ’n ernstige kontantvloeikrisis, swak inkomste-invordering en vervalle infrastruktuur, wat inwoners die las laat dra van onbetroubare watervoorsiening, rioolstortings en vervalle paaie.
“Die departement se verslag skets ’n kommerwekkende prentjie van totale finansiële en administratiewe ineenstorting op plaaslike vlak,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se hoof van Omgewingsake. “Alhoewel die munisipale infrastruktuurtoelaag byna 97% van sy R17,6 miljard-begroting bestee het, bly die waterverliese en agteruitgang van infrastruktuur eskaleer. Dit is ’n bewys dat geld aangewend word, maar nie slim nie.”
Die verslag dui daarop dat die toelaag hoofsaaklik gebruik word vir herstelwerk aan basiese infrastruktuur in munisipaliteite, maar dit word gedoen sonder die nodige instandhoudingsplanne of kundigheid. AfriForum maan dat die land se watersekerheidskrisis nie deur reaktiewe toelaes opgelos kan word terwyl munisipaliteite bankrot, oorbeman en polities gekaap is nie.
“Suid-Afrika verloor tans byna die helfte van alle behandelde water weens lekkasies en verwaarlosing,” voeg De Klerk by. “Hierdie verslag bevestig dat die probleem nie reënvalpatrone of ’n strawwe klimaat is nie, maar eerder die algehele finansiële ineenstorting en mislukkings van munisipaliteite is.”
AfriForum mobiliseer steeds die privaatsektor en gemeenskapstrukture om waterlekkasies te help herstel. Die burgerregteorganisasie eis terselfdertyd verantwoordbaarheid en die afdwinging van gevolgbestuur teen munisipale bestuurders en finansiële hoofde wat voortgaan om onbefondsde begrotings goed te keur in stryd met die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur.
“Gemeenskappe kan nie aanhou wag vir mislukte munisipaliteite om hulself reg te ruk nie. AfriForum sal voortgaan om plaaslike gemeenskapstrukture toe te rus en te ondersteun om watersekerheid te beskerm, want toegang tot skoon water is ’n grondwetlike reg, nie ’n politieke guns nie,” sluit De Klerk af.



