|

AfriForum se Kimberley-tak skenk “boeliebokse” aan skole ter bewusmaking van boeliegedrag

Die AfriForum-tak in Kimberley het op 3 November bokse aan vier skole in dié stad oorhandig as deel van ’n projek om bewustheid teen boeliegedrag te bevorder. Hierdie bokse gee aan leerders die geleentheid om voorvalle van boelie by die skool anoniem aan te meld, hetsy namens hulself of iemand anders.

Die skole wat die bokse ontvang het, is Hoërskool Diamantveld, Hoërskool Adamantia, Laerskool Newton en Laerskool Eureka. Die “boeliebokse” is reeds by dié skole in gebruik.

Volgens Marius Nagel, bestuurslid van AfriForum se Kimberley-tak, is die skole opgewonde oor die projek en die geleentheid om ’n veiliger en meer ondersteunende omgewing vir leerders te skep.

“Ons glo dat hierdie inisiatief nie net boeliegedrag gaan help bekamp nie, maar ook vir leerders die selfvertroue sal gee om probleme aan te meld en ondersteuning te soek,” sê Nagel.

AfriForum moedig ouers, onderwysers en leerders aan om saam te werk om ’n kultuur van respek en sorg in skole te vestig. Hierdie bokse is deel van AfriForum se breër veldtog om gemeenskappe te bemagtig om self oplossings te vind vir plaaslike uitdagings.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf