|

Noord van die Berg-buurtwag sê misdaad die stryd aan

’n Gesamentlike veiligheidsoperasie, gelei deur AfriForum se Noord van die Berg-buurtwag, het oor die naweek groot sukses behaal met die inhegtenisneming van ’n verdagte wat met verskeie aanvalle, inbrake en kabeldiefstalgevalle in die Akasia-omgewing verbind word.

Die operasie, bekend as Magalies OPS 1, is in samewerking met AfriForum se Wes-Moot-buurtwag, ProSec CITR, Maximum Security Services, ProShield Security, Fidelity ADT en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) onderneem. Gemeenskappe aan beide kante van die Magaliesberg is die afgelope paar maande geteister deur inbrake, rooftogte, kabeldiefstal en gewapende aanvalle.

“Wanneer jou omgewing gebuk gaan onder misdaad, kan jy óf daaroor kla óf opstaan en iets daaraan doen. AfriForum het besluit om daadwerklik op te tree om hierdie gebied te help beveilig,” sê Ruan Janse van Vuuren, voorsitter van AfriForum se Noord van die Berg-tak.

Die Theo Martins-poort en die omliggende R80-roete is geïdentifiseer as hoërisiko-areas, waar misdadigheid oor die afgelope tyd klaarblyklik toegeneem het. Met die SAPD se bystand, die betrokkenheid van sekuriteitsdienste én AfriForum se mobiele beheereenheid, oftewel gesamentlike operasionele sentrum, is die operasie vanuit Belgium Campus iTversity gekoördineer – met hommeltuie vanaf AfriForum en ProShield se lugvleuel.

Die operasie het nie net tot ’n inhegtenisneming gelei nie, maar ook bygedra tot verhoogde sigbaarheid en die verwydering van ander kriminele elemente uit die gebied. Hierdie samewerking bevorder AfriForum se steunkringkonsep, wat behels dat gemeenskappe en veiligheidsrolspelers saam werk om gesamentlike veiligheid te bevorder.

“’n Steunkring beteken dat niemand alleen hoef te staan nie. Wanneer AfriForum-takke, buurtwagte, die SAPD en privaatsekuriteit saamstaan en ’n steunkring vorm, word gemeenskappe sterker as die misdadigers wat hulle teiken,” sê Llewellynn Hemmens, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Noord.

AfriForum se Noord van die Berg-vrywilligers het vanuit Sinoville, Montana en De Wildt deelgeneem, terwyl AfriForum se Wes-Moot-lede ondersteuning van die suide af gebied het. Dit is presies hierdie tipe samewerking wat die grondslag lê vir volhoubare gemeenskapsveiligheid. Magalies OPS 1 is slegs die begin van verskeie gesamentlike operasies.

AfriForum bedank elke rolspeler en vrywilliger wat betrokke was by die sukses van hierdie operasie. Die tak bedank ook Belgium Campus iTversity, wat hulle terrein beskikbaar gestel het en Sacramento Spur vir die voorsiening van etes aan die betrokke lede.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf, Veiligheid