Phalaborwa-tak gerat om brande te blus, maar munisipaliteit móét brandgevare verminder
Lede van die AfriForum-tak in Phalaborwa het op 1 November veldbrandopleiding ontvang om veld- en struktuurbrande effektief te hanteer. Om brande doeltreffend te voorkom, meen dié tak móét die Ba-Phalaborwa Plaaslike Munisipaliteit eers die veelvoudige brandgevare in die gebied begin verminder.
Altesaam 16 lede van die gemeenskap het aan die opleiding, aangebied deur AfriForum se rampbestuurspan, deelgeneem. Die opleiding het beide ’n teoretiese en praktiese komponent ingesluit, waar deelnemers onder andere geleer het oor brandvoorkoming, veilige reaksieprosedures en die gebruik van basiese brandbestrydingstoerusting.
Tydens die sessie is daar ook verwys na die Phalaborwa-brande in 2023, waar 13 huise afgebrand het. Die voorval het die dringendheid beklemtoon van behoorlike brandvoorkoming en samewerking tussen die gemeenskap en owerhede.
AfriForum se Phalaborwa-tak het daarom ’n dringende beroep op die Ba-Phalaborwa-munisipaliteit gedoen om die beboste stroke en leë erwe op die dorp skoon te sny, aangesien hierdie gebiede ’n ernstige brandgevaar inhou, veral in die droë seisoen.
“Ons kan nie toelaat dat ’n gebrek aan onderhoud en beheer die veiligheid van inwoners in gevaar stel nie,” sê Hardus Fourie, voorsitter van AfriForum se Phalaborwa-tak. “Gemeenskapsamewerking en verantwoordelike optrede deur die plaaslike owerheid is noodsaaklik om toekomstige tragedies te voorkom.”
AfriForum nooi die gemeenskap uit om betrokke te raak om sodoende Phalaborwa ’n veiliger dorp te maak. Besoek www.wordlid.co.za om vandag nog hierdie tak te ondersteun.




