|

SAPD skop slagoffer se familie uit hof toe sokkerster verskyn

Klankgreep: Tshepo Kekana (vader van Gomolemo)

Die sokkerspeler, Shaune Mogaila, wat daarvan beskuldig word dat hy ’n ongeluk veroorsaak het wat die lewe van die nege-jarige Gomolemo Mavimbela geëis het, het gister (6 November) in die Tembisa-landdroshof verskyn. Tydens hierdie verskyning het lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), in ’n gevoellose daad teenoor die slagoffer se familie, Gomolemo se vader en tante versoek om die hof te verlaat. AfriForum se privaatvervolgingseenheid verteenwoordig Gomolemo se familie in hierdie saak en het Tshepo Kekana (slagoffer se vader) en Florah Mathipa (slagoffer se tante) gister na die hof vergesel en het gesien hoe die SAPD hulle versoek om die hof te verlaat terwyl Mogaila se ondersteuners toegelaat is om te bly. Lede van die privaatvervolgingseenheid is ook gevra om die hof te verlaat, maar hulle het die versoek verwerp en gebly om sodoende terugvoer aan die familie te kon gee.

Gomolemo het op 30 Oktober 2024 gesterf toe Mogaila se voertuig met dié van Gomolemo se moeder, Keo Mavimbela, gebots het in Andrew Mapheto-weg in Tembisa. Thano Khethiwa, die seun van Mavimbela se vriendin, is ook tydens hierdie botsing kritiek beseer. Die privaatvervolgingseenheid verteenwoordig ook Khethiwa se moeder, Carol Khethiwa. Die Sekhukhune United-vleuel het na bewering van die toneel gevlug, maar homself later by die polisie aangegee. Hy is borg van R20 000 toegestaan. Klagtes van strafbare manslag en roekelose en nalatige bestuur staar Mogaila in die gesig.

Volgens Barry Bateman, woordvoerder van die privaatvervolgingseenheid, het Gomolemo se moeder, Mavimbela, die privaatvervolgingseenheid in Julie genader juis uit vrees dat die beskuldigde voorkeurbehandeling geniet. “Dit is onmenslik dat ’n persoon wat daarvan beskuldig word dat hy die dood van ’n kind veroorsaak het, toegelaat word om sy ondersteuners in die hof te hê terwyl die kind se ouers en familie die reg ontsê word om die toediening van geregtigheid te aanskou. Dit is een van die wreedste voorbeelde van hoe die staat slagoffers van misdaad in die steek laat en dit beklemtoon die verval van die strafregstelsel. Dit blyk dat die strafregstelsel agteroorbuig om gehoor te gee aan die behoeftes van beskuldigdes ten koste van slagoffers. AfriForum se privaatvervolgingseenheid staan vas teen hierdie soort ongeregtighede en sal die owerhede oor hierdie kwessie nader.”

Volgens Kekana is hierdie nie die eerste keer wat hy en sy familie so behandel word by die Tembisa-landdroshof nie. “Dit is nie goed nie, want ek is die slagoffer van ’n misdaad en ek word nie in die hof toegelaat nie. Hulle het weer die saak uitgestel, maar as daar nie iemand in die hof was nie, hoe moes ek dit dan geweet het? Ek wens die reg kan sy gang gaan en dat ons kan afsluiting kry oor hierdie saak,” sê Kekana.

Die sersant wat Gomolemo se familie uit die hof gestuur het, het sy optrede verduidelik en gesê dat hy in beheer was en dat dit die wyse is waarop hy toegang tot die hof bestuur.

“Die Tembisa-landdroshof blyk geslote te wees vir die publiek met slegs die beskuldigde, hul ondersteuners, en regsverteenwoordigers wat toegelaat word wanneer hulle sake aangehoor word. Die polisie se optrede beteken dus dat alle sake wat veronderstel is om in ’n ope hof aangehoor te word nou in camera moet plaasvind. Dit is kommerwekkend dat hierdie reëling die stilswyende goedkeuring van ander rolspelers in die strafregstelsel dra,” sê Bateman voorts.

Die saak is na die streekhof oorgeplaas en Mogaila sal weer op 17 November 2025 verskyn.

Klankgreep: Julia Matsho (suster van Violet Matsho)

In ’n ander saak het die privaatvervolgingseenheid onlangs sukses behaal toe Vusi Shongwe, ’n roekelose bestuurder wat die dood van twee bakkerywerkers, insluitend die suster van ’n AfriForum-personeellid Julia Matsho, meer as twee jaar ná die voorval gevonnis is. Shongwe het skuldig gepleit en is op 23 September in die Atteridgeville-landdroshof tot drie jaar gevangenisstraf gevonnis. Violet Matsho en Senzo Sithole is op 20 Augustus 2022 op die toneel in W.F. Nkomo-straat, Pretoria-Wes, dood verklaar.

Matsho, Sithole en drie ander kollegas was op dié noodlottige oggend omstreeks 02:30 van die werk af op pad na hul tuistes in Atteridgeville toe die ongeluk plaasgevind het. Volgens die ander passasiers se verklarings het die voertuig, wat Shongwe bestuur het, in hulle baan ingeswaai en ’n kop-aan-kop-botsing veroorsaak.

Matsho se ouer suster, Julia, het die privaatvervolgingseenheid in November verlede jaar genader uit kommer dat die saak nog nie behoorlik ondersoek is nie. Die laaste keer wat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) haar of haar familie gekontak het oor die saak was in November 2022. Dié saak is gelei deur Slang Maangwale, ’n ondersoeker by AfriForum se privaatvervolgingseenheid, wat kontak met die SAPD en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG)  gemaak het om te verseker dat hierdie saak die aandag van senior amptenare geniet. Dié amptenare het gereeld opgevolg om te verseker dat die oortreder uiteindelik vervolg word.

Julia meen dat sy en haar familie nooit afsluiting sou kry as dit nie vir AfriForum was nie. “Ek is baie gelukkig vandag, want vir byna drie jaar is ons niks oor hierdie saak laat weet nie. AfriForum is die een wat die saak gedruk het. Vandag het ons afsluiting. My suster kan nou in vrede rus. Vandag begin ons genees want ons weet daai man gaan tronk toe. Die pyn wat hy vir ons familie veroorsaak het, vandag is hy die een wat daardie pyn ervaar.”

Volgens Bateman blyk dit uit die privaatvervolgingseenheid se ervaring van hierdie sake wat na hulle verwys word, dat die owerhede nie sake van strafbare manslag ernstig opneem nie. “Dit wil voorkom of die geen verdraagsaamheid benadering wat wetstoepassers op verkeersoortredings het, nie van toepassing is wanneer iemand in ’n botsing dood is nie. Ons sien baie keer dat ondersoeke nooit afgehandel word nie en dat hierdie sake nooit op die rol geplaas word om toe te sien dat oortreders verantwoordbaar gehou word nie. Die enigste manier om roekelose bestuur die hoof te bied is om te verseker dat oortreders verantwoordbaar gehou word. Ons is werklik gelukkig oor die afsluiting wat Julia en haar familie deur hierdie skuldigbevinding gekry het, maar dit het slegs gebeur omdat die privaatvervolgingseenheid ingegryp het.”

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik