Gauteng aanlyn plasings: Johannesburgse ouers óók moedeloos gesukkel
Nadat AfriForum verlede week ’n prokureursbrief aan Matome Chiloane, die Gautengse LUR vir Onderwys, gestuur het om probleme met vanjaar se aanlyn stelsel vir skoleplasings in Gauteng onder sy aandag te bring, is vasgestel dat die probleme veel wyer strek as wat aanvanklik vermoed is. Waar klagtes hoofsaaklik van ouers in Pretoria en Centurion ontvang is, stroom daar nou toenemend navrae en klagtes van bekommerde ouers uit Johannesburg in oor verkeerde of geen plasings van leerders vir die 2026-skooljaar.
Hierdie klagtes dui daarop dat die probleme met die aanlyn plasingstelsel beslis nie reggestel is soos die Gauteng-onderwysdepartement verlede Donderdag onderneem het om te doen nie. Verder is honderde ouers in die duister oor waar hul kinders volgende jaar moet skoolgaan, terwyl die departement min tot geen hulp aan ouers bied nie en hulle slegs aanraai om geduldig te wees.
“Ons ontvang daagliks oproepe en e-posse van ouers wat steeds geen terugvoer oor hul kinders se plasings ontvang het nie. Sommige het reeds op dag een aansoek gedoen, al hul dokumente ingehandig en steeds geen terugvoer van die departement gekry nie,” sê Carien Bloem, hoof van Onderwysprojekte by AfriForum.
“Die feit dat soortgelyke probleme nou ook in Johannesburg voorkom, beklemtoon dat hierdie probleem nie net beperk is tot Pretoria en Centurion nie maar reg deur die provinsie voorkom.”
Dit is ook ’n groot bekommernis dat talle ouers slegs per toeval uitvind dat hul kinders geplaas is wanneer hulle self die departement se webblad besoek – sonder enige kennisgewing per SMS of e-pos. Ander ouers noem dat hulle “voorlopige plasings” ontvang het by skole wat nie hul voorkeur skole is nie, terwyl hul voorkeur skole met beskikbare plek sit.
“Die stelsel is veronderstel om die proses vir ouers en skole te vergemaklik, maar daarteenoor blyk dit om verwarring, onsekerheid en frustrasie te veroorsaak,” sê Bloem.
“Ons is bekommerd dat die Gauteng-onderwysdepartement steeds nie in staat is om die proses deursigtig en betroubaar te bestuur nie. Dit bewys maar net weereens waarom AfriForum ’n voorstander is daarvan dat skole self beheer oor hul registrasieproses moet neem en plasings daarna aan die departement moet deurgee en nie anders om nie.”
AfriForum wag steeds op terugvoer in reaksie op die prokureursbrief waarin ’n beroep op die LUR gedoen is om dringend duidelikheid te gee oor die status van die aanlyn plasings, die kommunikasieproses aan ouers en wat die proses is om die foutiewe plasings reg te stel.
“Ouers verdien eerlike en tydige kommunikasie oor hul kinders se plasings. Die voortdurende gebrek aan terugvoer en deursigtigheid is eenvoudig onaanvaarbaar,” sê Bloem.
AfriForum moedig ouers aan om voort te gaan om enige probleme met plasings aan onderwys@afriforum.co.za te stuur.



