Nuwe Solidariteit-dokumentêr werp lig op negatiewe uitwerking van raswette
Solidariteit het vandag (10 November) sy nuwe dokumentêr, Race to the bottom, in Pretoria bekendgestel. Dié dokumentêr, waarin verskeie kenners, ontleders en persone wat deur rassediskriminasie geraak is, hul kennis en ervaring deel, werp meer lig op die negatiewe gevolge van die land se talle raswette.
Die dokumentêr stel ondersoek in na hoe daar in 1994 op ’n nierassige bedeling besluit is, maar daar sedertdien meer en meer wetgewing en regulasies ingestel is wat iets met ras te doen het. Die aantal raswette wat tydens die apartheidsjare gegeld het, het in 1980 ’n hoogtepunt bereik toe 127 raswette van krag was. Sedert 1994 is ’n totaal van 142 raswette egter ingestel.
Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, verduidelik in die dokumentêr dat die ANC poog om vir solank moontlik aan hul mag vas te klou. “Die ANC het volgens enige denkbare maatstaf oor die laaste 30 jaar gefaal. Die land is onveilig. Die onderwysstelsel is swak. Die openbare gesondheidstelsel werk nie. Die infrastruktuur verkrummel en so kan ek aangaan. Hulle probeer dus om klem te lê op ras om Suid-Afrika in ’n demografiese demokrasie te omskep. So hulle het ’n politieke beweegrede, maar in die proses skep hulle geweldige ekonomiese probleme.”
Volgens Moeletsi Mbeki, ekonoom en broer van oudpresident Thabo Mbeki, het swart ekonomiese bemagtiging die land onskatbare skade berokken. “Die vorige regering het suksesvolle industrie en infrastruktuur ingestel, maar Eskom het byvoorbeeld onder ANC-beheer so te sê ineengestort.”
Mbeki sê verder dat pres. Cyril Ramaphosa en ’n elite groepie politici baie ryk geword het, maar dat hulle nie die vaagste benul het hoe om suksesvolle ondernemings te bedryf of die land se ekonomie te groei nie.
Stef Pretorius, ’n voormalige werknemer van Denel, vertel hoe dié staatsentiteit in ’n kwessie van omtrent vier jaar agteruitgeboer het. Nagenoeg ’n dekade gelede het dié eens suksesvolle entiteit sy jaarlikse wins van sowat R30 miljoen verruil vir jaarlikse verliese van nagenoeg R250 miljoen. Volgens Pretorius het transformasieteikens – eerder as die aanstelling van vaardige werknemers – tot Denel se probleme gelei. Om die Denel-skip om te draai en die instelling weer op internasionale standaard te kry, sal egter algehele en diepgaande veranderinge vereis, verduidelik Pretorius.
Renate Barnard vertel op haar beurt hoe sy drie keer in ’n ry vir bevordering in die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) oor die hoof gesien is. Selfs ná ’n generaal haar vir bevordering aanbeveel het, het die destydse minister van Polisie, Jackie Selebi, ’n stokkie voor haar bevordering gesteek. Sy het die besluit met die hulp van Solidariteit in die hof beveg, maar ná sy aanvanklik gewen het en daar bevind is dat daar teen haar gediskrimineer is, het die Konstitusionele Hof in 2014 bevind dat dit nie die geval was nie aangesien die pos waarvoor sy telkens aansoek gedoen het, nooit gevul is nie.
Die dokumentêr kyk ook na Suid-Afrika se verhouding met die VSA en hoe die res van die wêreld se siening oor Suid-Afrika, ná die euforie van 1994 en die daaropvolgende jare, intussen verander het.
Alhoewel Race to the Bottom ’n redelike donker prentjie vir Suid-Afrika skets, word verskeie moontlike oplossings vir die land se probleme voorgestel. Dit sluit onder meer in om ekonomiese groei te bevorder, sekere staatsentiteite te privatiseer, ’n selfdoenbenadering te bevorder en die potensiaal van elke burger te ontsluit.
Race to the Bottom is nou beskikbaar op Solidariteit se YouTube-kanaal.



