Bou saam aan ’n kultuurgemeenskap
Deur Alana Bailey – hoof van Kultuursake by AfriForum
Wanneer ’n mens van ’n gemeenskap hoor, is jou eerste gedagte dikwels die mense om jou in jou woon- of werkbuurt, met ander woorde ’n geografiese gemeenskap. Die probleem hiermee is dat buurte gewoonlik ’n lappieskombers van kulture en mense met uiteenlopende lewensuitkyke is wat boonop deurlopend wissel soos wat hulle in- en wegtrek. Vir die lang termyn tuishoort op aarde is dit van die uiterste belang om ’n kultuurgemeenskap te bou.

As jy een van die gelukkiges is wat in ’n omgewing woon waar jou geografiese gemeenskap ook jou kultuurgemeenskap is, kan jy kies en keur waarby jy wil inskakel. Met die tegnologie wat deesdae tot ons beskikking is, hoef jy ook nie uitgesluit te voel as jy die enigste Afrikaner in die buurt is nie. Daar is vele aanlyn opsies beskikbaar waar jy jou identiteit as Afrikaner en Christen kan uitleef in die geselskap van mense wat jou waardes deel.
Omdat die druk om te globaliseer baie sterk is, is daar mense wat glo dat dit beter is om te konformeer en by ’n identiteitslose massa in te skakel. Op die lange duur lei dit dikwels tot gevoelens van verlorenheid en eensaamheid. Om ’n bepaalde identiteit te hê en dit uit te leef is ’n noodsaaklike deel van menswees – selfs vir die grootste individualiste en introverte.
’n Duidelike illustrasie hiervan is die opbloei van Afrikaanse kunstefeeste. In die vorige eeu was daar baie geleenthede en ruimtes waarbinne Afrikaners hul identiteit kon uitleef, maar onder die druk van die ANC en ander politici het baie hiervan verdwyn. Toe kunstefeeste begin was daar skielik weer geleenthede waar mense onbeskaamd hulself kon wees. Selfs dié wat tevore geen belangstelling in die uitvoerende en beeldende kunste gehad het nie, het daarheen gestroom bloot vir die ervaring om opnuut tuis in hul kulturele gemeenskap te voel.
Afrikaanse skole is nog so ’n suksesverhaal. Ten spyte van 31 jaar se druk om te verengels, is van die land se suksesvolste skole steeds enkelmedium- Afrikaanse openbare skole. Dit is ook waarom AfriForum só sterk teen die sogenaamde Wysigingswet op Wette op Basiese Onderwys (oftewel Bela) standpunt inneem. Dit probeer om ons van ons reg tot moedertaalonderrig en ’n kulturele gemeenskapstuiste vir ons kinders te ontneem en ons mag dit nie aanvaar nie.
Verdagmakers en ideoloë probeer om enige beskerming van ons kultuurgemeenskap as meerderwaardigheid, uitsluiting en selfs rassisme te etiketteer. Dit is ironies genoeg dikwels dieselfde mense wat iewers in ’n wêreldstad graag in die Chinese buurt, oftewel China Town, kuier. Meeste groot wêreldstede het so ’n buurt waar die Chinese inwoners hul unieke kultuur met groot energie uitleef sonder sprake van eksklusiwiteit. Enigeen is welkom daar, mits hy of sy van die kultuur hou. Sommige haak vas by kos en klere, ander gaan verder en leer selfs die taal en skrif aan.

Dieselfde moet geld vir enige ander kultuurgemeenskap op enige ander plek. As die Afrikaners in Perth saam met Kurt Darren by die Afrikaans is Lekker-konsert sing, is hulle nie meerderwaardig teenoor die res van Australië nie. Hulle sluit ook nie uit nie – enige Aussie wat wil saamdans op “Hop hop spinnekop” kan maar kom. Hoekom is dit dan enigsins anders as ’n Afrikaner ’n eie skool, kultuurprogram of selfs temarestaurant in ons land wil bedryf of besoek?

Om saam te bou aan ons gemeenskap is dit dus noodsaaklik om kulturele selfvertroue te hê en onbeskaamd trots te wees op die prestasies wat ons voorouers behaal het om namens ons en die nageslag aan ’n kultuur te bou wat ons as gemeenskap saamsnoer. Dit sluit ons moedertaal in wat ons juis onlangs met vele Afrikaans 100-aktiwiteite gevier het.
Afgesien van selfvertroue en gesonde selftrots, is kennis noodsaaklik om ’n suksesvolle gemeenskap te bou. Tradisionele bronne bied nie noodwendig meer hierdie gemeenskapspesifieke kennis nie. Ouers werk verder ook soms só hard net om te oorleef dat hulle nie genoeg tyd kry om die inligting wat kinders wel by skole en elders kry, aan te vul nie. Dit is dan wat organisasies soos AfriForum met ons wye aanbod van programme en aksies kan help.
AfriForum skep deurentyd geleenthede waardeur mense aan ons kultuurgemeenskap kan saambou. Daar is onder meer AfriForumTV se vele programme vir volwassenes en kinders, of AfriForum Teater se produksies. Ons onderwysafdeling bied weer byvoorbeeld die Besigheidsbytjies-entrepreneurskompetisie, die Dink of Sink-onvoorbereidedebatskompetisie en vele meer vir leerders aan. Selfs vir die mense in die vreemde skep AfriForum Wêreldwyd ’n tuiskomplek. Om saam te bou aan hierdie kultuurgemeenskap hoef jy slegs by AfriForum in te skakel, te ontdek wat nóg alles beskikbaar is en vasstel hoe jy daarby betrokke kan raak.
Om alleen te bou kan ’n uitputtende en eensame taak wees, maar saam met geesgenote raak die energievlakke hoër, die sukses groter en die vreugde meer.

Prediker 4:9–10 sê: “Twee vaar beter as een. Hulle inspanning kom tot iets. As die een val, kan die ander hom ophelp. Maar as een val wat alleen is, is daar niemand om hom op te help nie.”
Kom bou saam met AfriForum aan ons kultuurgemeenskap – ’n gemeenskap waar ons geborge en gelukkig saam tuis kan wees!



