Kruger se “trek” na die Noord-Kaap
Die onderstaande is ’n uittreksel uit ’n artikel wat in Forum Tydskrif se Somer 2025/2026-uitgawe verskyn. Leer die volledige artikel by www.tydskrif.afriforum.co.za.
Oudpresident Paul Kruger se spreekwoordelike “Tweede Groot Trek” het hom in September en Oktober 2025 tot in die hartjie van Orania in die Noord-Kaap geneem. Ná meer as 1 600 km wat die afgietsel en die toerspan oor nege dae afgelê het, is dié Kruger-beeld uiteindelik op Krugerdag, presies 200 jaar ná sy geboorte op 10 Oktober 1825, op die nuwe dorpsplein onthul.
Cara Tomlinson, kultuurkoördineerder by die FAK, het dié historiese toer gelei en saam met die toerspan die Kruger-beeld se afgietsel na tien dorpe geneem wat elk op ’n manier ’n historiese band met Kruger en sy lewe gehad het. Die toer is afgeskop met ’n presidensiële partytjie by die Voortrekkermonument – ’n geleentheid wat deur nagenoeg 6 000 mense bygewoon is. Vandaar het die beeld eers by die Krugerhuis, die Gereformeerde Kerk Pretoria (in die volksmond bekend as die Krugerkerk) en uiteindelik die Kruger-standbeeld op Kerkplein aangedoen voordat die langpad aangedurf is. Daarna is oorgestop op Kruger se plaas Boekenhoutsfontein buite Rustenburg, Potchefstroom, Krugersdorp, Heidelberg, Vereeniging, Heilbron, Kimberley en uiteindelik Orania.

Met die uitsondering van ’n beplande besoek aan die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU), waar toegang aan die toergeselskap geweier is, is Kruger in elke dorp met ope arms ontvang, verduidelik Tomlinson. Praatjies oor Kruger en sy band met die betrokke dorp, lesings oor onder meer Kruger en M.T. Steyn en uitvoerings van die N.P. van Wyk Louw-toneelstuk “Kruger breek die pad oop” is op verskeie dorpe op die toer aangebied.
AfriForumTV se kameraspan het dié historiese toer vasgevang en ’n dokumentêr oor dié reis sal na verwagting binnekort op AfriForumTV beskikbaar gestel word.



