|

AfriForum se Struisbaai-buurtwag help voortvlugtige aankeer

Die AfriForum-buurtwag in Struisbaai se vinnige reaksie die afgelope naweek (8 November) het toegesien dat twee verdagtes, waarvan een voortvlugtig was, op dieselfde dag aangekeer is.

Dié buurtwag het inligting ontvang dat ’n verdagte persoon in die omgewing gesoek is en onmiddellik lede ontplooi. Die verdagte is dieselfde dag, in samewerking met die Gansbaai-polisie, naby die Elim-pad opgespoor. Die verdagte is op die toneel deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in hegtenis geneem.

Later dieselfde dag het die buurtwag by ’n tweede soektog betrokke geraak, dié keer nadat ’n gevangene uit die Helderstroom-gevangenis in die Caledon-omgewing ontsnap het. Danksy deeglike koördinering en samewerking tussen verskeie rolspelers is die voortvlugtige eindelik opgespoor en weer in aanhouding geneem.

“Samewerking tussen rolspelers soos hierdie is van kardinale belang,” sê Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap. “Ons is dankbaar vir lede soos hierdie, wat hulle tyd en hulpbronne vrywillig opoffer om hul gemeenskappe veilig te maak. Ons bedank ook die Gansbaai-polisie vir hul samewerking en ondersteuning. Saam is ons werklik sterker.”

AfriForum se Struisbaai-buurtwag bly daartoe verbind om misdaad te bekamp deur samewerking, doeltreffende kommunikasie en vinnige reaksie. Die buurtwag doen ’n beroep op inwoners om by hul plaaslike AfriForum-tak aan te sluit en saam te werk aan ’n veiliger en meer selfstandige gemeenskap.

Sluit vandag nog by die Struisbaai-buurtwag aan. Stuur ’n e-pos na marthinus.erasmus@afriforum.co.za of skakel Erasmus by 081 216 9602 vir meer inligting.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf