AfriForum en Mineraleraad van Suid-Afrika veg nou saam om Eskom-Nersa-skikking te stop
Die Mineraleraad van Suid-Afrika het gister (10 November) ’n aansoek ingedien om saam met AfriForum toe te tree as party in die saak om Eskom en die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) se omstrede skikkingsooreenkoms finaal stop te sit. Dít volg ná hierdie skikking – wat verbruikers oor ’n tydperk van drie jaar sowat R54 miljard uit die sak sou jaag – in Oktober tydelik deur AfriForum gestuit is.
AfriForum het reeds in September vanjaar in ’n skrywe aan Eskom versoek dat hierdie saak van die onbestrede rol verwyder word sodat die organisasie as party tot die saak kan toetree. Eskom het die versoek teengestaan en aangevoer dat AfriForum nie die reg het om in te meng nie en dat die publiek nie vetoreg het nie. Volgens Eskom het dié skikking nie openbare deelname vereis nie.
Eskom het uiteindelik weens druk van AfriForum ingestem dat die saak van die onbestrede na die bestrederol oorgeplaas word. AfriForum en die Mineraleraad van Suid-Afrika is tot dusver die twee partye wat Nersa en Eskom se aansoek wil teenstaan.
Die Mineraleraad van Suid-Afrika, wat meeste myne in die land verteenwoordig, meen dat ten spyte daarvan dat hulle aan Nersa se tariefbepalingsproses deelgeneem het, was hulle nie bewus daarvan dat Eskom die oorspronklike besluit betwis het of dat Nersa verdere tariefverhogings deur die skikking goedgekeur het nie. Die raad voer aan dat die tersydestelling van die huidige besluit en die vervanging daarvan met ’n hoër tarief – sonder openbare deelname of insette van betrokke partye – ernstige nadele vir die mynbousektor sou inhou.
Die raad hou vol dat die saak terugverwys moet word na Nersa om ’n billike, deursigtige en inklusiewe tariefbepalingsproses te verseker wat alle belanghebbendes in ag neem.
Eskom het reeds AfriForum se aansoek tot toetrede teengestaan en meen in hulle opponerende stukke dat AfriForum en sy nagenoeg 300 000 lede wat dié verhoging moet betaal nie ’n direkte belang by dié hofsaak het nie.
“Dit is verblydend om te sien dat nog ’n party toe tree tot die saak om Nersa en Eskom te keer om besluite te neem waarvoor ons as publiek sal moet opdok, sonder om belanghebbende partye te konsulteer,” sê Morné Mostert, AfriForum se bestuurder vir Plaaslikeregeringsake.



