AfriForum hou Nersa en Ba-Phalaborwa-munisipaliteit aanspreeklik vir die nakoming van hofbevel
AfriForum moniteer die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) en die Ba-Phalaborwa Plaaslike Munisipaliteit noukeurig om volle nakoming van die hofbevel wat op 11 September 2025 deur die Pretoriase Hooggeregshof uitgereik is, te verseker.
Die hof het Nersa gelas om binne 30 dae ná betekening van die bevel ’n tribunaal byeen te roep om te ondersoek of die Ba-Phalaborwa Munisipaliteit sy lisensievoorwaardes oortree het deur nie aan die minimum standaarde te voldoen wat in die nasionale gerasionaliseerde spesifikasie (NGS 047-1:2002) uiteengesit word nie. Hierdie standaarde reguleer noodsaaklike aspekte van elektrisiteitsvoorsiening, insluitend kwaliteit, betroubaarheid en reaksietye tydens onderbrekings.
AfriForum se regsverteenwoordigers, Hurter Spies Ing., het die hofbevel op 28 Oktober 2025 aan Nersa beteken. Alhoewel die betekeningsproses vertraag is weens administratiewe uitdagings binne die balju se kantoor – insluitend ’n oordrag van gesag tussen balju’s in die betrokke gebied – beïnvloed dit nie die geldigheid van die betekening nie. Nersa se sperdatum vir voldoening bly dus 28 November 2025.
AfriForum het ook opgemerk dat die aanvanklike kennisgewing wat Nersa aan die munisipaliteit uitgereik het, nie die organisasie se klagte ten volle weerspieël nie en nie die bepalings van die hofbevel behoorlik implementeer nie. Volgens AfriForum moet Nersa die kennisgewing wysig of ’n nuwe een uitreik wat die hof se bevindinge sowel as AfriForum se klagte akkuraat weerspieël. Indien Nersa versuim om dit te doen, sal AfriForum nie huiwer om voort te gaan met ’n minagting van die hof-aansoek teen die betrokke partye nie.
“Alhoewel Nersa tegnies steeds binne die tydsraamwerk is wat deur die hofbevel gestel is, moniteer ons die proses noukeurig om te verseker dat geregtigheid geskied en dat die munisipaliteit aanspreeklik gehou word vir die voortdurende diensleweringsmislukkings wat inwoners raak,” sê Hendrik Kotzé, AfriForum se provinsiale koördineerder vir Limpopo.



