Emalahleni-amptenare moet prys betaal vir omgewingsmisdade nié inwoners – AfriForum
AfriForum is van mening dat vordering gemaak word in die beskerming van die land se natuurerfenis deur die vervolging van ernstige omgewingsmisdade, soos die een wat onlangs deur die Emalahleni Plaaslike Munisipaliteit gepleeg is. Die boete van R650 miljoen wat deur die hof opgelê is, gaan egter ten koste van inwoners betaal word, eerder as die amptenare wat vir jare lank toegelaat het dat rioolstortings voortduur.
Die Hooggeregshof in Mpumalanga het onlangs ’n reuseboete opgelê nadat die munisipaliteit skuld erken het aan verskeie oortredings ingevolge die Nasionale Omgewingsbestuurswet (Nema) 107 van 1998 en die Nasionale Waterwet 36 van 1998. Die munisipaliteit het, as gevolg van sy eie nalatigheid, ernstige omgewingsbesoedeling tussen 2019 en 2025 veroorsaak. Dit het daartoe gelei dat rou en onbehandelde rioolwater in onder andere die Olifantsrivier gestort is.
Die munisipaliteit is deur die hof aangesê om teen April 2031 R500 miljoen van die boete te gebruik vir rehabilitasie asook herstelwerk aan die infrastruktuur wat dié besoedeling veroorsaak het. Al die besteding moet uit die bestaande munisipale begroting kom en moet aan die departement van Water en Sanitasie en die departement van Landbou, Landelike Ontwikkeling en Omgewingsake gerapporteer word.
“Inwoners het vir jare lank die rou riool verduur en nou moet hulle die herstelwerk befonds deur ’n begroting wat reeds nie in staat is om basiese dienslewering te befonds nie. Dit is boonop dieselfde onbekwame munisipaliteit wat nou op een of ander manier moet regmaak wat dit vir jare lank nie kon nie. Dit boesem nie veel vertroue in nie,” sê Marais de Vaal, raadgewer vir Omgewingsake by AfriForum.
AfriForum voer aan dat hierdie benadering nalatige amptenare vrywaar en beskerm teen die gevolge van hul optrede, terwyl inwoners die prys twee keer moet betaal – eers deur die omgewingsimpak en dan deur die herleide diensleweringsbegroting. AfriForum eis dat die verantwoordelike amptenare gestraf en uit hul poste verwyder word om werklike aanspreeklikheid te verseker.
Die burgerregteorganisasie sal voortgaan om te verseker dat inwoners nie verder benadeel word deur die Emalahleni-munisipaliteit se nalatigheid en wanbestuur nie.



