|

Tshwane-metro nóg ’n knou oor stadsreinigingsheffing toegedien; betaal geld terug, eis AfriForum

AfriForum eis dat die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit dadelik die geld terugbetaal wat die afgelope paar maande onregmatig van Pretoria se inwoners vir die stadsreinigingsheffing verhaal is óf verdere hofaksie in die gesig staar. Dié beroep volg nadat die metro vandeesweek nóg ’n knou in die hof toegedien is.

Die Hooggeregshof in Pretoria het gister (18 November) by monde van waarnemende regter George Avvakoumides hom weer ten sterkste teen die Tshwane-metro uitgespreek. Die hof het opnuut bevestig dat die metro se omstrede heffing onwettig is en dat die oorspronklike uitspraak van krag bly hangende die uitkoms van die appèlproses. As sulks mag die metro nie die tarief hef terwyl die appèlproses afgehandel word nie. Die burgerregteorganisasie staan dié appèl ook teen.

Volgens Arno Roodt, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Suid, is die jongste uitspraak ’n deurslaggewende oorwinning wat namens die inwoners van Pretoria bekom is.

“’n Hofbevel word normaalweg opgeskort sodra ’n party teen die bevel appelleer, maar AfriForum het bewys dat die Tshwane-metro se gedrag uitsonderlik, ongewoon en onaanvaarbaar is. AfriForum het ook daarin geslaag om te bewys dat belastingbetalers onomkeerbare skade sal ly indien die metro voortgaan met die heffing. Die hof het dus beslis dat die metro se appèlaansoek geen opskortende werking het nie. Dit beteken dat die verhaling van die onwettige heffing onmiddellik moet stop én dat inwoners wat reeds gedwing was om dit te betaal, nou geregtig is op volle terugbetaling,” sê Roodt.

Luidens die uitspraak het die Tshwane-metro nie net die aanvanklike hofbevel verontagsaam deur voort te gaan met die heffing nie, maar ook inwoners geïntimideer met dreigemente van diensonderbrekings, regstappe en skuldinvordering. Die hof het die metro se optrede as “onregmatig”, “ongewoon” en ’n “direkte verbreking van sy grondwetlike plig” beskryf.

“Hierdie oorwinning behoort ’n duidelike boodskap aan die metro te stuur: Pretoria se inwoners is nie alleen nie want AfriForum staan reg om hul regte en belange te bevorder en te beskerm,” voeg Roodt by. 

AfriForum doen daarom ’n beroep op die Tshwane-metro om onmiddellik:

  • op te hou om die onwettige heffing op inwoners se rekeninge te plaas;
  • alle ingevorderde bedrae ten volle terug te betaal;
  • die hofbevel na te kom sonder verdere vertragings; en
  • op te hou om inwoners met onregmatige invorderingsmaatreëls te teiken.

Inwoners word aangemoedig om hul rekeninge na te gaan en AfriForum in kennis stel indien die Tshwane-metro nie dit onmiddellik regstel nie. Inwoners kan op datum bly van die jongste verwikkeling in die saak of enige navrae hieroor aan help@afriforum.co.za stuur.

“AfriForum se aksie het verseker dat die inwoners van Pretoria teen munisipale misbruik beskerm word. Hierdie saak gaan nie net oor ’n tarief nie; dit gaan oor die beskerming van die publiek teen magsmisbruik en die afdwing van behoorlike munisipale bestuur,” sê Deidré Steffens, AfriForum se raadgewer vir Plaaslikeregeringsake.

AfriForum sal voortgaan om die implementering van die hofbevel te monitor en is gereed om enige verdere onregmatige optrede deur die metro en ander munisipaliteite teen te staan. Ondersteun die stryd teen hierdie heffing deur by AfriForum aan te sluit. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik