AfriForum help Prieska-vullisterrein se beeld te poets
Die AfriForum-tak in Prieska het met die aanvang van November ’n reeks aksies van stapel gestuur om die veiligheid, netheid en navigasie na die dorp se vullisterrein te verbeter.
As deel van die projek is die stopteken by die kruising op Hoofweg en Proudfootstraat, wat na die vullisterrein lei, vervang. Die vorige bord was beskadig en het ’n veiligheidsrisiko vir motoriste en vragmotors ingehou wat gereeld dié roete gebruik. Die tak het verder ook ’n nuwe naambord vir die vullisterrein opgerig om die ligging van die terrein duideliker te identifiseer en sodoende verwarring vir inwoners en besoekers uit die weg te ruim.
Benewens die oprigting van nuwe borde, het AfriForum-lede ook vullis opgetel en die kruising skoongemaak. Die aksie het die area merkbaar verbeter en veiliger gelaat vir almal wat die vullisterrein besoek.
Volgens AfriForum se Prieska-tak word hierdie projekte moontlik gemaak deur die lojale en toegewyde lede wat deur hul bydraes die volle kostes van die aksie gedra het. Die tak het beklemtoon dat gemeenskapsbetrokkenheid die sleutel is tot funksionerende dorpe, veral waar munisipale instandhouding tekortskiet.
“Ons is ongelooflik trots op ons lede wat telkens bewys hoe baie hulle vir die dorp omgee. Wanneer gemeenskappe self inspring, word verandering teweeggebring en Prieska se mense is die bewys daarvan,” sê AfriForum se takbestuur in Prieska.
AfriForum moedig inwoners aan om by plaaslike projekte betrokke te raak en voort te bou op die positiewe momentum wat reeds in Prieska gesien word. Besoek www.wordlid.co.za om vandag nog betrokke te raak.



