Geen nuwe ontwikkeling voor dienslewering aan bestaande gemeenskappe in Mohokare-munisipaliteit
AfriForum doen ’n beroep op die Mohokare Plaaslike Munisipaliteit om die ontwikkeling van Matlakeng Uitbreidings 11 tot 15 te heroorweeg. Volgens die organisasie gaan inwoners van Zastron en Matlakeng Uitbreiding 10 reeds gebuk onder watertekorte en die bestaande, wanfunksionele, rioolaanleg stort reeds groot hoeveelhede rou riool in die omgewing, nóg uitbreidings sal net verdere druk op die netwerk plaas.
AfriForum het ’n skrywe aan die waarnemende munisipale bestuurder, Mopedi Sam Mohamed, gerig nadat dit duidelik geword het dat die munisipaliteit nie van plan is om basiese dienslewering aan bestaande inwoners te verseker voordat nuwe uitbreidings bygevoeg word nie. In hul skrywe lig die organisasie onder meer onvoldoende watervoorsiening, ’n wanfunksionerende rioolstelsel, wanbestuur van die vullisterrein en verskeie omgewingsrisiko’s uit.
Volgens AfriForum voldoen die vullisterrein nie aan omgewingswetgewing nie en skep reeds ’n gesondheidsrisiko. Die voorgestelde ontwikkeling is boonop geleë in ’n natuurlike ekosisteem waar die bedreigde Kaapse aasvoël broei, en enige ontwrigting in hierdie area sal die spesie se habitat hier bedreig.
“Mohokare Plaaslike Munisipaliteit kan dit eenvoudig nie toelaat dat die natuurlike broeiplek van die Kaapse aasvoël in gevaar gestel word nie. Die gebied is ’n uiters sensitiewe ekosisteem en kan nie ’n nuwe nedersetting dra nie. Enige ontwikkeling sal ’n ernstige impak op die omgewing en op dié aasvoëlspesie hê,” sê Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir Bloemfontein. “Ek moet dit ook duidelik stel dat só ontwikkeling nie kan voortgaan terwyl dienslewering in Mohokare misluk nie. Die munisipaliteit versuim om selfs die basiese dienste te lewer: die rioolwerke is buite werking, die vullisterrein word wanbestuur en die infrastruktuur is eenvoudig nie in staat om nóg ’n uitbreiding te dra nie.”
“Indien hierdie ontwikkeling sou voortgaan, sal inwoners van die nuwe uitbreiding min of geen dienslewering ontvang nie. Dit is onregverdig, onvolhoubaar en skep die basis vir nóg ’n humanitêre en omgewingskrisis. AfriForum sal dit nie toelaat nie,” sluit Groenewald af.
AfriForum het die munisipaliteit versoek om die ontwikkeling onmiddellik te hersien, die bestaande diensleweringskrisis te prioritiseer en volledige dokumentasie oor die beplande uitbreiding beskikbaar te stel. Die organisasie sal voortgaan om die situasie te monitor en alle nodige stappe doen om die regte van die Zastron-gemeenskap te beskerm.



