AfriForum bevraagteken weermag se stilswye oor DRK-ontplooiing
AfriForum het sy ernstige kommer uitgespreek oor die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) se stilswye nadat hy versuim het om op die burgerregteorganisasie se formele versoek om inligting rakende die ontplooiing van Suid-Afrikaanse troepe na die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) te reageer.
AfriForum het in Februarie vanjaar ’n versoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) aan die SANW ingedien waarin dokumente aangevra is wat die ontplooiing regverdig, besonderhede van die kostes en befondsing uiteensit én die redes stipuleer waarom troepe na ’n spesifieke streek gestuur is. Hierdie inligting is in die belang van openbare veiligheid, tog het die SANW tot op hede geen terugvoer of erkenning van ontvangs verskaf nie.
“Hierdie voortgesette stilswye van die weermag af, is uiters kommerwekkend,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid. “Die versuim om basiese inligting bekend te maak, skep die indruk dat inligting van die publiek weggesteek word, veral gegewe die feit dat daar bewerings van politieke en finansiële inmenging om hierdie ontplooiing die ronde doen.”
Bewerings doen boonop ook die ronde dat ondernemings wat bande met politici het, gekoppel is aan winsgewende mynregte in gebiede waar Suid-Afrikaanse soldate ontplooi is. Hierdie bewering dui daarop dat die SANW se ontplooiing moontlik privaat sakebelange dien, eerder as om nasionale veiligheid te bevorder.
“Dit is onaanvaarbaar dat die lewens van Suid-Afrikaanse soldate in gevaar gestel kan word vir die verryking van ’n paar invloedryke individue. Die SANW se onwilligheid om hul samewerking te gee, versterk net die persepsie dat daar ongerymdhede is. As die SANW niks het om weg te steek nie, behoort dit geen probleem te hê om deursigtig te wees nie,” voeg Broodryk by.



