AfriForum bied selfverdediging-, noodhulpopleiding aan 70 kinders in Bloemfontein
Die AfriForum-tak in Bloemfontein, AfriForum Jeug en die burgerregteorganisasie se plaaslike protospan het die afgelope naweek (15 November) omvattende selfverdediging- en noodhulpopleiding aan sowat 70 kinders van Engo Jeugsorg aangebied. Hierdie inisiatief is daarop gemik om jongmense met praktiese, lewensreddende vaardighede toe te rus en om hulle in staat te stel om reg en selfversekerd op te tree wanneer noodsituasies ontstaan.
Volgens Wikus van der Walt, AfriForum Jeug se beampte vir Strukture, is hierdie soort programme van kritieke belang gegewe die misdaadsituasie in die land. “Dit is noodsaaklik dat die jeug oor die nodige vaardighede beskik om hulself te verdedig. Deur hierdie inisiatief skep ons groter bewustheid oor persoonlike veiligheid onder jongmense.”
Die kinders is opgelei en toegerus met basiese dog praktiese vaardighede en tegnieke om onder meer reg en veilig op noodgevalle te reageer; wapens op ’n veilige manier van ’n aanvaller af te neem; uit ontvoerders se greep te ontsnap; en lewensgevaarlike bloeding te identifiseer en onmiddellik te stop.
Hierdie sessie vorm deel van ’n uitgebreide bewustheidsprogram wat ook ’n inligtingsessie oor mensehandel insluit wat op 13 November aangebied is. Die program fokus daarop om kinders toe te rus met die kennis om risiko’s te herken en hul persoonlike veiligheid te bevorder.
“Ons jeug is die toekoms van ons land en ons moet hulle sover moontlik beskerm teen die misdaad wat daagliks in Suid-Afrika eskaleer. Inisiatiewe soos hierdie stel hulle in staat om die nodige beginsels te leer om hulself te beskerm,” beklemtoon Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir Bloemfontein.
AfriForum en sy strukture is daartoe verbind om die veiligheid en ontwikkeling van die land se jeug voortdurend te bevorder.





