|

AfriForum-buurtwagte help vure blus tydens Oos-Kaap se 2025-brandseisoen

AfriForum-buurtwagte in die Nelson Mandelabaai moes die laaste paar weke behoorlik spring om vure oor ’n wye gebied in bedwang te bring.

In die jongste voorval op 3 November het ’n brand agter die Spar in Rowallanpark in Gqeberha uitgebreek. AfriForum se Walkerdrive–buurtwag is om 16:00 na die toneel ontbied en die brand is om 19:10 geblus.

Op 30 Oktober het ’n brand tussen die Hillwacht-pad en Rangers Outdoors net buite Uitenhage uitgebreek en weereens het AfriForum-buurtwagte ’n belangrike rol gespeel in die blus daarvan.

Op 23 Oktober het verskeie vure gelyktydig by Rocklands en Riverstone-weg in Sherwood in Gqeberha uitgebreek. Terwyl lede van AfriForum se Walkerdrive-buurtwag in Sherwood besig was om die vuur daar in bedwang te bring, het hulle ’n oproep van die plaaslike brandweer ontvang om ook te kom help met ’n brand op Seaview-laan in Groenbossies.

Terselfdertyd het lede van AfriForum se Mosel-buurtwag van Uitenhage gehelp om die vure te blus wat by Rocklands en “Uncle Freddy’s” uitgebreek het. Uiteindelik het beide buurtwagte saam op geëindig by die brand in Groenbossies. Drie ander AfriForum-buurtwagte  –Jeffreysbaai, Broadwood en Springfield – was ook op bystand vir ingeval die vure buite beheer geraak het.

Op 19 Oktober het ’n brand buite Uitenhage langs die Amanzi-pad uitgebreek. AfriForum se Winterberg–plaaswag het gereageer en die vuur is onder beheer gebring terwyl die Mosel–buurtwag op bystand was.

“Danksy AfriForum-vrywilligers se bereidwilligheid om hulself beskikbaar te stel in diens van hul gemeenskappe, kan AfriForum-buurtwagte brande doeltreffend blus. Hierdie vrywilligers is ook deeglik opgelei om brande te beveg en is met die nodige toerusting toegerus om dit te kan doen,” sê Louis van der Vyver, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Kaap.

Elke AfriForum–buurtwag is ook toegerus met ’n sogenaamde “bakkiesakkie” – oftewel mobiele brandblussingseenheid, wat op bakkies gemonteer word. Hierdie “bakkiesakkies” het die vermoë om water onder groot druk op die vlamme te spuit.

Tussendeur die vure veg, ondersteun AfriForum-buurtwagte ook die plaaslike brandweer deur sogenaamde brandsakkies aan hulle uit te deel. Die doel van dié sakkies is om brandbestryders se lewens makliker te maak en bevat onder meer oogdruppels, lipsalf, sonbrandmiddel, keelsuigtablette, kleefband, pleisters en isotoniese poeier wat met water gemeng word. Hierdie sakkies kan aan die brandbestryder se gordel vasgemaak word en is dus maklik bereikbaar en kan nie wegraak nie.

AfriForum doen ’n beroep op die publiek en ondernemings om ’n bydrae te maak tot die hervul van hierdie brandsakkies. Kontak Minette van der Vyver by 083 685 5815 vir meer inligting.

AfriForum moedig die publiek aan om by hul naaste AfriForum-tak aan te sluit. Besoek www.afriforumbuurtwag.co.za vir meer inligting of om betrokke te raak.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf