AfriForum eis dringende optrede teen brande by Kya Sand-vullisterrein
AfriForum het op 27 Oktober ’n formele brief aan die Johannesburg Metropolitaanse Munisipaliteit gerig waarin dringende ingryping geëis word oor die aanhoudende onwettige verbranding en storting van afval in en om die voormalige Kya Sand-vullisterrein in Randburg. Die burgerregteorganisasie waarsku dat die situasie ’n ernstige gesondheids- en omgewingsrisiko vir inwoners van Kya Sand, Bloubosrand, Fourways, Cedar Lakes en omliggende gebiede inhou.
Volgens Stephanus Blignault, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Wes-Rand, het dié vullisterrein, wat reeds in 2010 gesluit is nadat dit sy kapasiteit bereik het, sedertdien in ’n onwettige stortingsone verander waar afval daagliks aan die brand gesteek word. “Die giftige rook wat hieruit ontstaan, kan nie geignoreer word nie – dit bedreig mense se gesondheid en die omgewing,” sê Blignault.
AfriForum se brief verwys na ’n hofbevel van 5 Augustus 2024 waarin die Johannesburgse Hooggeregshof die Johannesburg-metro opdrag gegee het om omvattende luggehalte-toetse by Kya Sand uit te voer. Nietemin word daar steeds volgens berigte meer as tien aktiewe onwettige stortingsterreine gebruik.
Inwoners asem daagliks giftige gasse in wat longsiektes, asma-aanvalle en ander gesondheidsprobleme kan veroorsaak. Die verbranding van plastiek, bande, chemiese afval en selfs mediese afval stel inwoners bloot aan karsinogene en hormoonversteurende stowwe.
AfriForum wys ook daarop dat besoedelde afloopwater die grond en omliggende waterbronne bedreig, wat ’n direkte risiko inhou vir landbou-aktiwiteite, plaaslike ondernemings en huishoudings.
In sy brief vra AfriForum dat die Johannesburg-metro binne 14 dae ’n skriftelike aksieplan bekend maak wat onder meer die volgende insluit: ’n volledige register van onwettige stortingsterreine en hul status; ’n tydlyn vir rehabilitasie, insluitend opruiming, heinings, beligting en sekuriteit; publikasie van lug- en watergehalte-toetsresultate vir giftige stowwe; gereelde gemeenskapsvergaderings en kommunikasiekanale vir klagtes; openbare verslagdoening oor wetstoepassingsaksies teen oortreders; en ’n volhoubare plan om te verhoed dat die terrein weer versleg.
AfriForum beklemtoon dat die inwoners van Kya Sand en omliggende gebiede reeds vir jare op aksie wag en nie sal toekyk hoe die gesondheid van duisende mense in die slag bly weens onwettige praktyke nie. Die metro het ’n grondwetlike plig om sy inwoners teen besoedeling en onwettige aktiwiteite te beskerm.
AfriForum versoek dat die metro dringend met die gemeenskap en relevante organisasies skakel om ’n volhoubare, deursigtige en tydgebonde oplossing te implementeer.
Klik hier om vandag nog by AfriForum se veiligheidstrukture betrokke te raak.



